Ons is besig om met mekaar te gesels oor wat dit prakties beteken om as volgelinge van Jesus te lewe.

Jesus het daar in Joh. 10:3 tot 5 belowe om Sy volgelinge te lei deur Sy stem en deur Sy Gees wat in hulle woon (kyk Rom. 8).

Kom ons sê vir mekaar dadelik: Die meeste mense rondom jou gaan jou begin skeef aankyk die oomblik as jy begin sê jy hoor God se stem wat met jou praat!

Daar is sielkundiges wat sulke mense wil laat opneem in die een of ander geestesgesondheidskliniek omdat hulle oortuig is dat daar iets ernstig fout is met sulke mense!

Natuurlik is daar mense wat stemme hoor wat met hulle praat, wat te wyte is aan die een of ander fisies-chemiese abnormaliteit of die gevolg is van die een of ander geestessiekte waaraan hulle lei. Maar dit is nie waaroor ons hier praat nie. Ons praat hier van gewoon praktiese Bybelse volgeling- en dissipel-wees van Jesus, waar Hy Sy belofte tenoor jou en my nakom om ons te lei deur Sy stem, soos Hy daar in Joh. 10 byvoorbeeld, belowe het.

Dit gaan hier daaroor dat Hy elke Nuwe Testamentiese gelowige belowe dat Hyself in ons woon deur Sy Gees en ons graag wil lei deur Sy stem. Hy wil ons hele lewe beheer as ons Hom toelaat, sodat ons nie net die lewe kan beleef wat Christus Jesus vir ons bewerk het deur Sy kruisiging en opstanding nie, maar ook sodat ons die oorvloedige, oorwinnende, suksesvolle, bevredigende, betekenisvolle lewe sal beleef wat daarmee saamgaan (Joh. 10:10b).

En dit onder alle omstandighede en midde enige uitdaging of uitdagende tyd wat oor ons pad kom.

Die wonder van alles is dat Hy in daardie selfde vers in Joh. 10:10b vir ons elkeen belowe dat dit dáár is vir ons elkeen. In Jesus, deur die werking van Sy Gees wat in ons elkeen woon, kan elkeen van ons daar tussen jou unieke uitdagings elke dag, hierdie lewe beleef. Te midde van al die bonatuurlike, Goddelike ervarings wat ons gaan hê wanneer ons bewus word van God se stem en meer begin verstaan van wat Hy vir ons sê en van ons vra, gaan ons Sy bonatuurlike teenwoordigheid en versorging beleef.

Hierdie bonatuurlike lewe van geloof (want dit is ’n geskenk van Bo, van God af, deur die werking van Sy Gees in ons), word aan ons gegee in Jesus Christus.

Dit is daar vir elkeen van ons wat Jesus Christus aangeneem het in geloof. Ons kan selfs sovêr gaan om te sê dat dit God se wil is dat elkeen van ons hierdie bonatuurlike lewe van geloof sal leer leef elke dag en dat Hy reeds alles voorsien het wat nodig is vir my en jou om dit te beleef.

Ek weet party van julle sit en dink dat dit nie vir julle is of net nie vir jou moontlik kan wees nie. Miskien verras dit jou om te dink dat dit dalk waar kan wees ook vir jou.

Maar jy hoef nie verder hieroor te wonder nie. Dit is daar vir elkeen van ons. God daag ons as’t ware uit om Hom te vertrou om dit ook prakties vir elkeen van ons te leer.

Onthou daardie bekende woorde in Habakuk 2:4, wat ook in Romeine herhaal word, wat ek sommer in my eie woorde hier vir jou wil vertaal: Diegene wat te trots is om op God te vertrou, gaan die pyn daarvan beleef. Maar die regverdige mens sal leef uit geloof (of omdat hy/sy gewaag het om in geloof vas te gryp wat God belowe of gesê het).

Dit gaan dus oor wat dit beteken om werklik ’n geloofslewe te leef.

Ons het Jesus Christus aangeneem as Verlosser en Here, miskien jare gelede al. Ons weet God se Woord sê vir ons dat die Heilige Gees in ons lywe woon om ons te lei en te leer. Ons weet God belowe in Sy Woord dat Hy vir ons elkeen wil sorg en voorsien elke dag. En dat Hy ons liefhet. En ek glo dat ons elkeen Hom graag wil dien en gehoorsaam elke dag in alles wat ons doen en sê en dink.

Maar tog belewe ek dat die Here ons uitdaag om Hom vir meer as dit te vertrou. Ek glo Hy wil hê ons moet Hom vertrou om ons na dieper dinge, na ’n lewe en ervaring van ’n dieper persoonlike intimiteit en persoonlike geloofs- en liefdesverhouding met Hom te lei.

Maar ek moet jou ook waarsku: Om God te vra om jou in te lei in ’n nuwe ervaring van hierdie bonatuurlike geloofslewe waarin jy net agter Sy stem aanstap en doen wat Hy sê, kan dalk dinge van jou vra wat jou gemaksones gaan strek tot jy amper nie meer kan nie. Dit gaan dalk veroorsaak dat daar dae gaan kom wat jy moet sê: Here, ek kan nie meer nie! Ek kan nie meer langer hierdie druk en hierdie uitdagings hanteer nie!

Dit is dan wat ek en jy moet onthou dat Jesus self hierdie proses van om Hom te volg, beskryf met prentjies soos dat ek en jy “gekruisig moet word en moet sterf” (bv. daar in Markus 8). Hoe het Hy self gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”

Dit is dan wat ons moet onthou wat daar in Hebreërs hoofstuk 11 in vers 6 staan: “As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”

Daar wag dus ’n merkwaardige beloning vir elkeen van ons wat waag om God uit te nooi om jou meer en meer te leer van hierdie geloofspad wat Hy wil hê ons moet stap as Sy volgelinge.

Scroll to Top