Uit die Oue, in die Nuwe – Deel 69

Wat maak ’n volgeling van Jesus Christus anders?

Wat maak dat die lewe van die lede van ’n Nuwe Verbond-geloofsgemeenskap (waarna ons in die gewone omgangstaal verwys as die ware Kerk van Jesus) anders sal lyk en wees as die res van die mense om hulle?

Wat maak mense werklik verander as hulle ’n persoonlike ontmoeting met ’n lewende Jesus Christus gehad het en in geloof gekies het om Hom te dien en te volg vir die res van hulle lewe?

Dit kan tog nie wees dat hierdie mense met selfdissipline en allerlei selfhelp-metodes of ’n doelbewuste wettiese lewe dit regkry nie.

Nee, die geheim hiervan moet dieper wees as dit.

Daar in Kolossense 1, vers 27, verduidelik Paulus vir ons in vier woorde wat die geheim is van so ’n veranderde lewe. Hy beskryf dit as “Christus is in julle”.

Daar in Gal. 2 beskryf Paulus dit as “Christus wat in my lewe”.

Natuurlik is dit eintlik ’n onbeskryflike geloofswerklikheid, sê Paulus in daardie selfde gedeelte daar in Gal. 2. Hoor hoe sê hy dit onder die inspirasie van die Gees: “… nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Ek wil ’n bietjie hieroor met jou gesels. Ek doen dit in alle beskeidenheid, want hierdie is een van die geloofsdinge in die Woord van God wat ek al soveel keer van gelees het en self beleef en meer en meer van leer ken in my eie lewe, maar ook oor moet erken dat ek self nog net die oppervlakte hiervan ontdek.

Ek is vanjaar (2014) deur God se genade reeds 45 jaar ’n gelowige volgeling van Jesus Christus. En as ek terugkyk oor my lewe, dan sien ek duidelik hoe my lewe verander het. Ek is regtig, soos Paulus sê, ’n nuwe mens. Iets van die nuwe skepping waarmee God besig is, het ook in my lewe begin sigbaar word deur God se genade.

Ek sê doelbewus “deur God se genade” en nie sommer uit gewoonte nie. Want alles is toe te skryf aan “die lewe van Christus Jesus” wat in my aan die werk is deur die genade-werking van God se Gees.

Dit is asof ek daardie dag wat ek tot bekering gekom het (op die 10de Oktober 1969) deur God self as’t ware ingeprop is by ’n nuwe krag- en lewensbron, die lewe van Jesus Christus.

As ons op die oppervlakte daarna kyk, kan ons sê dat die oomblik toe ek in geloof tot bekering gekom het, het God se Gees in my kom woon en ’n totale lewensverandering en –vernuwing in my aan die gang gesit deur my te koppel aan die Lewe van Jesus. Die een oomblik was ek nog dood en die volgende oomblik het ek, bonatuurlik, deur God se genade aan my geskenk, begin lewe.

Die Bybel beskryf hierdie proses wat hier plaasgevind het, wat nogsteeds in ’n sin aan die gebeur is in my en in elke volgeling van Jesus se lewe, op baie verskillende maniere en met baie verskillende terme of prentjies.

In die volgende paar sessies gaan ek en jy van verskillende hoeke af hierna kyk en hieroor daar by die voete van Jesus, met die Bybel in ons hand, sit en mediteer.

Daarom wil ek nie myself vooruitloop nie.

Ek wil vandag se gedeelte afsluit deur jou te neem na Jesus se woorde daar in Joh. 15 waar Hy vir ons as Sy volgelinge gesê het: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.

Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly.

As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.

Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.” (Joh. 15:1-14)

Scroll to Top