Uit die Oue, In die Nuwe – Deel 48

Onder die beheer van God se Gees wat nou in ons woon, kan ons iets van God se Koninkryk in en rondom ons sien “kom”.

Omdat Jesus Christus, die Koning van hierdie Koninkryk, in ons lywe woon deur Sy Gees, kan Hy Sy lewe aan die mense en die wêreld rondom ons bedien. Sodat mense iets van die hemel beleef. Sodat mense, soos daar in 1 Kor. 14 staan, kan bely: God self is hier by ons. Hy is self met ons besig. Ons hoor Sy stem. Ons sien Sy hand in ons lewe aan die werk. Ons sien en beleef iets van Sy teenwoordigheid hier by ons op aarde.

Daarom is dit vir my en jou, as gelowige volgelinge van Jesus Christus, wat deel geword het van Sy Nuwe Testamentiese geloofgemeenskap, nodig om telkens maar weer oor te gee aan die beheer van hierdie Jesus se Gees wat in ons woon. Sodat Hy deur ons kan doen en sê wat die lewende Jesus wil doen en sê deur ons.

Dit is nodig sodat ons kan ophou om alles net met ons gewone verstand te bedink of net deur ons gewone oë te sien.

Ons het werklik die krag en werking van die Gees van God nodig om werklike getuies te wees van hierdie bonatuurlike, lewende God se bestaan en wat Sy hart en wil is vir mense. Ons het Sy krag nodig om Sy getuies te wees teenoor die demoniese wêreld en sy magte wat nog aanhou om mense te belieg en te bedrieg en gevange te hou.

Onder Sy beheer kan ons opstaan en die vyand teëgaan. Onder Sy beheer kan ons opstaan en vasstaan in die waarheid dat Jesus Christus werklik die Lam van God is wat die sonde van die wêreld wegneem.

Onder Sy beheer kan ons opstaan en vasstaan in geloof dat hierdie Jesus reeds kant en klaar die vyand en al sy magte oorwin het.

Onder Sy beheer kan ons vanuit hierdie oorwinning begin dink en optree.

Onder Sy beheer kan ons tuinslange word wat ingeprop is by ’n lewende Jesus sodat Sy lewe, krag, genade, genesing, verlossing, hoop, troos, vreugde, vrede en noem maar vêrder op wat jy ook al nodig het, eers jou eie lewe kan bedien, maar ook dan deur jou kan vloei na waar Hy weer ook ander rondom jou daarmee wil bedien.

Maar dit alles vra dat ek en jy heeltyd bewus is van hierdie nuwe, onsigbaar, maar tog so ’n werklike dimensie in ons eie lewe, maar ook rondom ons.

Die Bybel beskryf dit op baie maniere.

Die Bybel beskryf dit as geloof. Soos dit daar in Heb. 11:1 staan: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Of soos dit daar in Kol.3:2 tot 10 staan: “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.

Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.

Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het.

Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.”

Scroll to Top