Ons leef in so verwarde wêreld waar die term “Christen” gebruik word om aan te dui dat iemand deel is van die een of ander “Christelike kerk” êrens in die wêreld.
Om so ’n bietjie hierdie verwarring te ontduik, praat ek eerder van “om ’n gelowige volgeling van Jesus Christus te wees”. Waarmee ek dan ten minste drie dinge probeer beklemtoon:
1. Net iemand wat erens in sy of haar lewe ’n persoonlike geloofsontmoeting gehad het met ’n lewende Jesus Christus en Hom herken en erken het as die gekruisigde, opgestane Verlosser en Here, behoort tot die ware Nuwe Testamentiese Kerk of Ekklesia.
2. Omdat God deur Sy Gees dan so ’n mens “nuutgemaak het” (die Bybel gebruik verskillende terme om verskillende kante van hierdie wonderwerk te beskryf, soos lewendig gemaak, wederbaar, verlos, gered, genees, vergewe, regverdig, uitverkies, vrygespreek, ens.) en in hulle kom woon het deur Sy Gees, word hulle lewe gekenmerk deur “geloof”. Hierdie “geloof” kan ’n mens seker op baie maniere beskryf. Ek wil dit hier beskryf as: om te hoor wat God aan ons sê, dit te glo en dan na te volg en te gehoorsaam in ons hele lewe.
3. Jesus Christus het Sy volgelinge belowe dat Hy hulle sal lei deur Sy stem. Dit beteken prakties dat Hy op baie maniere met ons gaan praat; ons moet dus leer om Sy stem tussen al die stemme te herken; en dan ook leer om Sy stem onvoorwaardelik en gelowig te gehoorsaam in die hier en nou wat ook al ons omstandighede is.
Ek wil baie prakties wees. Daar in Mat. 6:33 sê Jesus vir ons dat dit prakties die volgende beteken: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Daar waar ons Jesus gelowig gekies het as Verlosser en Here, het ons Hom ook gelowig herken as die nuwe Koning van planeet aarde. In die proses ontdek ons dan ’n groter plan wat besig is om te ontvou hier rondom ons, naamlik dat Sy Koninkryk hier moet kom. Die wonder is dat dit deel is van God se wil vir elkeen van ons dat ons elkeen daar op die platform en in die hier en nou waar ons ons bevind, sal doen en wees wat Hy wil hê ons moet doen en wees.
Maar al hierdie dinge gebeur nie sommer net so nie. Nee, daar is ’n proses by betrokke wat God deur Sy Gees geleidelik, meestal met stampe en stote, aan ons moet openbaar. En dan ook net as ons Hom toelaat om dit te doen.
In Rom. 14:17 sê Paulus onder die inspirasie van die Gees wat “koninkryk” prakties beteken as daar staan: “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.”
Om Jesus Christus as die Koning van die Koninkryk van God – wat besig is om te kom – te eer, beteken prakties dat ons sal moet leer om Sy stem gehoorsaam te volg, om dan die vrede en die vreugde te beleef wat die Heilige Gees wat hier binne-in ons is, vir ons sal gee.
Ons volg nie meer ’n klomp wette, soos destyds onder die Ou Verbond dit geval was nie. Jesus Christus deur Sy Gees wat in ons woon, is nou self ons nuwe Wet en Hy sê vir ons hoe ons moet lewe en wat ons moet doen.
In Rom. 15:13 bid Paulus dan onder die inspirasie die volgende gebed vir die volgelinge van Jesus: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”
Sien, hierdie geloof-hoop-dinge gebeur nie sommer net so nie. Soms is geloof en hoop iets wat in ons moet groei en sterker word. Soms moet God ons stuk vir stuk daarvan leer. In die harde leerskool van die gewone lewe en die gewone hier en nou met al sy dinge en al sy stukkendheid. Dit vind nie daar erens in die paradys plaas nie. Dit vind hier, in hierdie stukkende wereld van ons, vol stukkende mense, met jou as stukkende mens plaas. Dit is die fondasie waarop ons dan in die hier en nou moet bou, wat ook al ons omstandighede is en wat ook al die dinge is waardeur ons moet gaan.
Kom ek probeer dit illustreer in een van die mees uitdagende situasies waarin een van ons seker kan beland.
Stel jou die volgende senario voor: Jy het pas gehoor jy het breinkanker met ’n kwaadaardige gewas wat maak dat dokters menslik gesproke jou 3 maande gee om nog te lewe. Onthou, jou uitdaging is nou om as gelowige volgeling van Jesus in die situasie op te tree en te lewe.
Aan die eenkant glo jy in ’n God in Christus Jesus vir wie niks onmoontlik is nie. Hy sê Hy het reeds ook al jou siektes op Hom geneem en daarvoor gesterf. Wat maar net beteken dat Hy ook ’n einde gemaak het aan alle siekte. Of jy as mens dit as ’n werklikheid in jou fisiese liggaam hierdie kant van die graf gaan beleef, is die praktiese vraag vir jou as gelowige om by Jesus se voete, soms alleen en soms in die teenwoordigheid van Sy kinders, uit te maak. (Oor die werklikheid anderkant die graf, is daar natuurlik geen twyfel nie).
Verder weet ons as gelowiges wat die Woord ken, dat ons fisiese liggame net ’n gebroke, tydelike kruik en tentwoning is wat net vir ’n tyd aan ons gegee is vir die stukkie lewe hier op aarde. Met ander woorde, as gelowige moet ons erens in ons lewe vrede kry met die Bybelse waarheid dat lewe in die Bybelse sin baie langer duur as net die lewe hier op aarde. G’n wonder Paulus leer ons daar in 1 Kor. 15 dat wie net vir hierdie lewe op aarde hoop op God, die ellendigste is van alle mense. Want ons lewe hier op aarde is maar net die kleinste stukkie van wat lewe werklik behels.
Gelowig lewe hier op aarde behels dus ook ’n leer om gelowig, met vrede in jou hart, vrede te maak met die dood as dit dan die pad is. Dit word dan ’n geval waar ek aan die voete van my Here en Koning kan sit om daar by Hom te hoor wat Hy hieroor te sê het. Sê Hy dalk vir my dat ek Hom kan vertrou vir bonatuurlike genesing. Of miskien sê Hy vir my ek kan ophou bid vir fisiese genesing, want dit gaan nie gebeur nie. Of miskien hoor ek niks, wat maar net sê ek kan aanhou bid en Hom nog vertrou om in te gryp. Wat ook al die vorms van Sy ingrype gaan wees.
Miskien sê Hy vir my: Vandag is die dag van redding vir jou! En wys Hy vir my watter pad na genesing ek moet loop. Of miskien is my redding juis daarin geleë dat ek Hom ontdek as langs my en in my as ’n lewende God wat my vul met so ’n onverstaanbare, onverklaarbare vrede oor die pad wat ek tans loop. En wek Hy by my die begeerte op om ook hierdie pad met vrede en ’n vreugde en dankbaarheid te stap. Of miskien wys Hy my hoe om daarop aan te dring by die medici om my die geleentheid te gee om ook hierdie dae hier op aarde met waardigheid en lewenskwaliteit te lewe.