Die Bybel openbaar op ’n paar plekke die verskriklikheid van die dodelike siekte waaraan elke mens ly van voor sy of haar geboorte af.
Dit is waarvan ons reeds in die Ou Testament lees, soos daar in Gen. 6:5, wat The Message soos volg vertaal: “God saw that human evil was out of control. People thought evil, imagined evil—evil, evil, evil from morning to night.
In elke mens is daar hierdie “ingebore natuur” wat sonde van nature liefgehad en aantreklik vind.
Vir elke ouer is dit ’n skok om te ontdek dat daardie klein kleuter van jou leuens kan vertel! En dit sonder dat jy as ouer dit ooit vir hulle geleer het!
So vind ons as mens van nature sonde uiters aantreklik en so gemaklik, sonder om eers daaroor te wroeg, soos om te skinder, te lieg en te bedrieg, ander te “bully”, te begeer en noem maar vêrder op. Van die vroegste van tye is dit deel van ons menslike natuur.
Ten spyte van ons beste pogings om hierdie “demone” in ons te tem of te boei, sy dit deur self-help-metodes of terapie, hou mense net aan om te stik in die walms van hierdie gebrokenheid en van nature geneigdheid om te sondig.
Dit is waarom die Evangelie oor Jesus Christus en wat Hy inderwaarheid kom doen het vir die mens, sulke goeie nuus is. Net Hy, deur Sy dood en opstanding, kan hierdie sondigheid en doodsheid in ons beeindig. Die geskenk van Sy lewe in ons deur die werking van Sy Gees, verander en maak alles nuut.
Wanneer die mens sy hoop en vertroue in Hom stel, ontvang ons hierdie geskenk van ’n nuwe lewe, verlossing, ’n herstelde liefdesverhouding met die God van hemel en aarde en word ons verlos van die hel waarheen ons op pad was en die hel waardeur ons reeds is.
As ’n gelowige volgeling van Jesus is dit belangrik om te onthou dat jou verlede nie net uitgewis en vergewe is nie, maar dat die krag van daardie sondige natuur in jou gebreek is. Dermate dat jy nie meer “sondaar” genoem kan word nie, maar verloste mens wat nou nie meer magteloos en hulpeloos staan teenoor daardie ou natuur in jou nie.
Natuurlik is daardie ou natuur, wat die Bybel “vlees” noem, steeds in elkeen van ons. Daarom sê die Bybel, het ons elke dag ’n geveg ophande, tot die dag wat ons sterf.
So hoor ons God se Gees aan ons daar in Gal. 5:16 e.v. sê: Laat toe dat die Heilige Gees in julle nou julle lewe beheer en lei.
Hoor hoe staan dit in die NLT: “So I say, let the Holy Spirit guide your lives. Then you won’t be doing what your sinful nature craves. The sinful nature wants to do evil, which is just the opposite of what the Spirit wants. And the Spirit gives us desires that are the opposite of what the sinful nature desires. These two forces are constantly fighting each other, so you are not free to carry out your good intentions.”
Moet dus nie dink dat omdat jy nou ’n volgeling van Jesus en deel van die Nuwe Testamentiese geloofgemeenskap is, wat ons Kerk van Jesus noem, die magte in jou finaal padgegee het nie. Om in Jesus te glo en Hom te volg, maak jou nie outomatiese ’n “beter mens” nie. Dit beteken net dat jy vergewe is en ’n nuwe natuur gegee is wat in staat is om hierdie magte in jou te oorwin wanneer jy onder die beheer van die Heilige Gees in jou is.
Ek en jy gaan nog daagliks teen hierdie stuk gebrokenheid en vlees in ons stry en stoei. Maar onder die beheer van die Heilige Gees kan ek en jy, tenspyte daarvan, ons Here Jesus dien en verheerlik met die lewe wat ons lewe en die keuses wat ons daagliks maak.
Maar onthou maar van hierdie interne konflik wat hierbinne in jou elke dag aan die gang is. Wat maak dat “die helfde van jou” wil bid, terwyl die ander helfde van jou nog wil slaap. Dit is wat maak dat een deel van jou graag gehoor wil gee aan die stem van die Heilige Gees hier binne-in jou wat vir jou aansê om vir iemand in nood te gee, terwyl die ander deel van jou dit suinig wil vashou vir die dag van môre.
Kom ons luister daarom na daardie sagte stem van God se Gees hierbinne in ons. Wat ons wil help hiermee.
Daarom het ons nodig om elke dag hierdie verklaring te maak van ons totale afhanklikheid van Jesus Christus en Sy Gees in ons … Sodat God se Koninkryk ook in ons en deur wat ons doen, sê en dink, kan kom.
