Ons het verlede keer begin gesels oor wat Paulus daar in die brief aan die Kolossense skryf oof die lewe van Christus wat “in ons is”.
Dit is geweldig belangrik vir ons in die moderne Kerk van Jesus om raak te sien hoe Paulus in hierdie brief hier in Kolossense dwaling hanteer.
Die hart van alle dwaling, liewe vriend, is dat ons nie werklik Jesus Christus, wie Hy is en wat Hy werklik gedoen het en nog steeds vir ons wil doen, raaksien en in berekening bring nie.
Alles gaan oor Hom.
Daarom is Hy die antwoord op alle dwalinge.
Wanneer gelowige mense met allerlei dwalinge oploop raak, is die verloop van hierdie proses soos volg: Mense hoor die Evangelie oor Jesus, wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het vir die eerste keer werklik en kies om dit te begin glo.
Maar êrens langs die pad kies hulle om daarvandaan aan te beweeg. Kies hulle om te glo dat daar ander dinge is, hoër dinge, meer belangriker dinge is om mee besig te wees en hulle tyd aan te bestee as hierdie eenvoudige evangelieboodskap.
Moenie ’n fout maak nie, hulle is oortuig dat hulle besig is met die dinge van God en selfs met God self besig is. Hulle is net oortuig dat hulle dieper, hoër openbaringe ontdek het oor God en in Sy Woord.
Maar, vriende, verstaan mooi, as daardie dinge waarmee jy besig is nie in die eerste plek oor Jesus gaan nie, is jy op ’n dwaalspoor en verdwaal.
In hierdie brief aan die gelowiges in Kolossense kom Paulus en trek die gordyn weg om vir gelowiges ’n merkwaardige uitsig te gee oor wie Jesus Christus is. Wat ons asem wegslaan.
Elke mens wat weer dit raakgesien het, dit ingedrink het… daaroor begin mediteer het… kan nie meer met iets anders oploop raak nie. Dit is al wat jou werklik opgewonde maak. Dit is al wat werklik vir jou die moeite werd voel om na te vors, om na te dink oor, om te praat oor.
In die lig daarvan vervaag alle sogenaamde waarhede wat in sovele dwalinge vir ons as “vaste spys” aangebied sou word. In die lig van hierdie prentjie, wie Jesus is, ontdek ons onmiddellik die valshede en leegheid in al hierdie dwalinge.
Daarom is dit so belangrik dat ek en jy weer vir God smeek om ons te help om in die lig van wat hier in Kol. 1 en die res van hierdie brief staan, weer die heerlikheid en skoonheid van Jesus Christus, die Seun van God , God self, te ontdek.
Ons hoef nie verder te blaai as Kol. 1 nie.
Kom ons luister net weer na daardie verse van vers 15 af asof Jesus self aan die woord sou wees:
“Ek, die Seun is die sigbare uitbeelding van God, wat vir julle oë onsigbaar is.
Ek is die Eerste van die hele skepping, omdat My Vader alles deur My geskep het.
Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of magshebbers is – álle dinge is deur My en vir My geskep.
Ek was daar vóór alles, en in My word alles saamgebind.
Ek is die hoof van die Kerk, My Liggaam.
Ek is die begin.
Ek is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Ek inderdaad eerste in alle dinge is.
My Vader en die Gees het dit goedgedink om met volle Goddelikheid in My te woon, en om deur My alles met Hulself te versoen.
Deur My bloed as Seun aan die kruis het Ek totale vrede bewerk.
Ja, deur My het Ek alles op die aarde en in die hemel met Myself versoen.”