Uit die Oue, In die Nuwe – Deel 41

Ons prentjie van die Kerk verander noodwendig as ons werklik verstaan dat die ware Bybelse Kerk ’n Nuwe Testamentiese geloofgemeenskap is.

God se Gees is besig om daardie prentjie te verander as deel van Sy totale verlossings-, genesings- en vernuwingswerk in ons lewe. Hy leer ons om met nuwe oë te kyk na wat ons tot nou toe “kerk” genoem het.

Hy gaan ons opnuut laat kyk en laat nadink oor hoe ons waarlik “Kerk” moet wees.

Hy gaan ons selfs laat nadink oor hoe, waar en wanneer hierdie ware Kerk moet bymekaarkom.
Dit is ook wanneer ons gaan besef dat dit wat ons tot nou toe “kerk” genoem het, nie al kan wees wat “kerk” is nie.

Dit is wanneer ons begin besef dat ons in die “kerk” vir verkeerde mense gesê het dat hulle aan die ware Kerk van Jesus sou behoort. Want as iemand nie in ’n persoonlike geloofsverhouding met ’n lewende Jesus Christus as Verlosser en Here is nie, woon Sy Gees nie in daardie persoon se lewe en lyf nie (soos God volgens die Nuwe Testament tog belowe). En dan is hy of sy nie werklik lid van die ware Bybelse Kerk en ’n ledemaat van die Liggaam van Jesus nie.

As jy dit werklik verstaan, dan verstaan jy dat daardie byeenkoms wat op derduisende plekke oor die wêreld, veral op ’n Sondag plaasvind, nie noodwendig in die Bybelse sin die ware Kerk van Jesus is wat bymekaarkom nie. Ja, van hulle is beslis deel van die ware Kerk van Jesus Christus, maar die grootste meerderheid van hulle is heel waarskynlik nie deel van die ware Kerk van Jesus Christus nie.

Al die miljoene mense wat volgens die sowat 30 000 verskillende kerkstrukture in Suid-Afrikaas as “kerklidmate” beskryf word, is dus nie almal in werklikheid deel van die ware Bybelse Kerk van Jesus Christus en van die ware Nuwe Testamentiese geloofgemeenskap nie.

Die rede daarvoor is omdat van hulle nie ’n persoonlike geloofsontmoeting gehad het met ’n lewende Jesus Christus waar hulle Hom in geloof aanvaar en aangeneem het as hulle persoonlike Verlosser en Here nie. Hulle is dus nie wedergebore nie. En dan woon die Heilige Gees, as die Waarborg van die beloftes van die Nuwe Testament, ook nie in hulle lewe en lywe nie.

Daarom lewe, praat en dink hulle nie anders as die res van die wêreld om hulle nie.

Dit is dan ook die rede waarom die wêreld so verward en geskok is oor die sogenaamde “kerk”, want die grootste gedeelte van die mense wat hulleself “kerk” noem, is nie werklik Kerk nie.

Kom ons neem nou maar Suid-Afrika en Suid-Afrikaners as voorbeeld.

Volgens die mees onlangse navorsing verklaar meer as 79% van die inwoners van Suid-Afrika dat hulle die Christelike godsdiens aanhang en lede van Christelike kerke van die een of ander aard is. Maar kyk net hoe lyk dit in hierdie land? Kyk net na die hoë misdaadsyfer as voorbeeld.

Dit is duidelik vir elke mens met oë en ore dat hierdie 79% mense wat hulle self “kerk” noem, nie werklik elkeen deel is en deel kan wees van die ware Bybelse Kerk van Jesus nie.

Om dus te “roem” daarin dat daar 79% mense in Suid-Afrika “kerk” sou wees, is as jy die Bybelse waarheid oor wie en wat die ware Kerk van Jesus is ken, dus van nul en gener betekenis.

Dit behoort die ware Kerk van Jesus Christus, ongeag waar hulle hulleself in en tussen al die verskillende kerkstrukture bevind, tot diepe selfondersoek te dwing.

Dit sal ons dring om weer aan die voete van ons Verlosser en Here, die Een wat ook die Hoof van die ware Kerk is, te gaan sit, met die Bybel in ons hand en die gebed dat God se Gees ons tog sal verlos van al die leuens wat vasgevang sit in ons jare lange belydenis en geloofsartikels, sodat Hy en Hy alleen ons waarlik kan vrymaak deur die Waarheid van Sy Woord.

Scroll to Top