Selfbeheersing

ImageOm onsself terug te hou – selfbeheersing – word in die Bybel die bewys genoem dat God se Gees in ons woon. (Sien Gal. 5:22-23). Om te lewe sonder beheer, is soos ‘n kar sonder remme. Dit voel dalk opwindend vir ‘n rukkie, maar op die ou end gaan jy ‘n hoë prys vir die rit betaal. As jy die remme wegneem, sal jou lewe, soos jou kar, verander in ‘n onbeheersde missiel wat afstuur op ‘n ramp.

Dit is onmoontlik om ‘n lewenstyl van morele suiwerheid te handhaaf sonder om te doen te kry met die basiese begeertes van ons vlees wat heeltyd smag na vervulling. Die Bybel sê: “Moet dan nie toelaat dat die sonde oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as julle julle aan iemand onderwerp om hom te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is,” (Rom. 6:12-16, NAV.) As jy dit toelaat, sal jou liggaam jou van die pad af laat dwaal. Jou liggaam is nie boos nie, maar het ‘n aptyt wat heeltyd versadig moet word met kos wat aanloklik lyk en tydelike genot kan gee. 

‘n Bybelkenner het geskryf: “Die lewe op aarde is niks meer as ‘n aantal oomblikke wat een vir een op mekaar volg nie. Ek wil nie hê dat my getuienis vir Jesus verwoes moet word deur ‘n enkele oomblik wat ek myself oorgee aan my vlees nie. Ek wil nie hê dat een oomblik van woede of hoogmoed of begeerte ‘n skadu moet gooi oor ‘n leeftyd lank wat ek saam met my Here gewandel het nie. Tog is ek bang dat dit kan gebeur. En weet jy wat? Ek wil bang wees daarvoor.

Wanneer ek ophou om bang te wees, is ek in lewensgevaar.” 

© Kopiereg 2007 Radiokansel www.radiokansel.co.za

Scroll to Top