Verhoudings tel

Image
ImageVreugde kom in klein porsies — soos in daardie koffie wat jy saam met ‘n vriend drink. Of in ‘n onbeplande kuier saam met iemand wat jy onverwags raakloop. Die lewe gaan oor verhoudings. Het jy geweet dat selfs jou brein so ontwerp is dat jy in bykans ‘n tiende van ‘n sekonde vinniger besluite oor mense neem as oor ander dinge. ‘n Onlangse studie het bevind dat wanneer ons rustig rondsit en niksdoen nie, dan is ons brein bes moontlik besig om ons verhoudings van naderby te bekyk.
Die Here het ons ontwerp om lief te hê. Ons is bedraad vir verhoudings. Ons is ontwerp om diep gevoelens van medelye en liefde te kan ervaar. Moenie dit vroegjaar loop prysgee en nogeens ‘n slaaf van vol programme, vergaderings en aktiwiteite word nie. Jou geloof moet verhouding-gedrewe wees, nie taak-gedrewe nie. Jou geloof gaan nie oor al die dinge wat jy vir die Here doen nie, maar oor die verhoudings wat jy bou. Dit gaan oor goeie dinge wat jy stilweg doen vir mense met regte name en adresse. Wees vanjaar daar vir mense naby aan jou. Wees ook daar vir diegene wat onverwags jou pad kruis. Seën hulle met jou liefde.
~ Stephan Joubert
Scroll to Top