Wees geduldig, God sal die regte tyd bepaal!

ImageDie gesegde lui: “Jy kan nie altyd kry wat jy wil hê nie,” maar God se woord sê wanneer jy “jou vreugde in die Here (vind) . sal (Hy) jou gee wat jou hart begeer,” (Ps. 37:4, NAV). Gewoonlik laat Hy jou so bietjie wag. Dennis Wholey het gesê: “Dit is ‘n kuns om te kan wag. As jy vir twee jaar lank kan wag, kan jy iets bereik wat jy nie vandag al kon bereik nie. Dit maak nie saak hoe hard jy werk, hoeveel geld jy daarop uitgee of hoeveel keer jy jou kop teen die muur stamp nie.” Daar is goed wat jy nie vandag kan hê nie wat jy wel in die toekoms sal kan kry.

Jakobus het gesê: “Die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom,” (Jak. 1:4, NAV). God laat toe dat sekere goed in ons lewens gebeur sodat Hy belangrike beginsels aan ons kan leer, soos: (a) die ontwikkeling van nuwe vaardighede en denkwyses; (b) hoe om guns te betoon en ons reaksies te beheer; (c) hoe om ons geloof te behou wanneer die lewe moeilik word. Paulus het geskryf: “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het,” (Kol. 3:12, NAV); “Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed,” (Rom. 12:12, NAV).

As jy ‘n bietjie tyd in God se wagkamer deurbring, ontwikkel Hy kwaliteite in jou wat op geen ander manier ontwikkel kan word nie. Jy sal sterker en wyser aan die ander kant uitkom. En jy sal volwasse genoeg wees om dit wat Hy vir jou in gedagte het te kan hanteer. Moet dus nie die vyand toelaat om jou te ontsenu nie. “Wees stil in die HERE en wag geduldig op Hom,” (Ps. 37:7, NLV).

© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)

Scroll to Top