My verlede!

past2307

past2307Ek vind die volgende aanhaling in die boek van Doug Stringer: “I don’t want to bring the wounds from my past into my present relationships.” Dit het my dadelik laat dink aan die bekende word “verlede”. Met ander woorde die tyd wat verby is in jou en my lewe. Die verspeelde kanse en die gedagtes en stories uit ons verlede wat ons lewe en keuses beeinvloed. Ons leef in ‘n wereld van ou wonde en die oopkrap van seer in mense se lewens. Soms is dit nodig om die keuses te verstaan en die stories van mense se bestaan te kan interpreteer. Tydens ander geleenthede is die seer te groot en mense word weer herinner aan die skadukante van hulle verlede.

Die mooi van die verlede is ook die mylpale en die positiewe verhale van menswees. Dit is om jou kindwees te onthou, jou verbeeldingstye en die speel met karretjies op die sitkamer mat. Die paadjies in die tuin en die dorpe van sand en stokkies onder die vrugtebome in die agterplaas. Dit is mooi stories wat soms vergete raak in die seer van die hede. Soms vergeet ons die groot ou peperboom in oupa se tuin en die vyftigsent in jou hand as jy op oupa se skoot in die voorkamer van sy huis sit. Jy vergeet hoe die gryswit hare jou altyd gefassineer het. So is ons lewe gevul met mooi en met seer stories. Jy het ‘n keuse of jy kan die stories van hoop onthou of die seer weer opdiep en die seer toelaat om jou te beheer. Wat kies jy vandag?

Stephan van Heerden (www.klipkerk.co.za)

Scroll to Top