
As jy glo dat God ’n groter doel met jou lewe het, moet jy op sy roeping reageer deur plat voor Hom neer te val. Dit is hoe elkeen van die groot mans en vroue van God in die Skrif gereageer het. Toe ’n Engel van die Here aan Sagaria verskyn en vir hom gesê het dat hy sy seun Johannes moet noem, het Sagaria met ’n slag op die vloer neergeval en nie beweeg nie, totdat die mense rondom hom gewonder het of hy dood is. Die profeet, Esegiël, het gesê dat hy in die teenwoordigheid van God, toe God die visioen aan hom gegee het, op die grond neergeval het. God moes hom beveel om op te staan deur te sê: “Mens, staan regop, Ek wil met jou praat,” (Eseg. 2:1, NAV). Toe Johannes, die skrywer van Openbaring, vir Jesus tussen die sewe kerke sien staan het, het hy geskryf: “Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval … soos een wat dood is,” (Op. 1:17, NAV).
Diegene wat hulself verhef, word deur God nederig gemaak. Diegene wat voor God nederig is, word deur Hom opgehef.
© 2007
Radiokansel. www.radiokansel.co.za



