“Kom ons bid”

Adoniram judson0403

Adoniram judson0403In Augustus 1806 het vyf studente van Williams College in ‘n oop veld bymekaargekom vir ‘n gereelde gebedsontmoeting. Dit het begin reën en hulle het in ‘n hooimied gaan skuiling soek. Samuel John Mills het die gevoel op sy hart gedeel dat die Christelike boodskap oorsee verkondig moet word, en die groep het gebid dat Amerikaanse sendingstasies die Woord deur die ooste sou versprei.

Baie geleerdes beskou hierdie gebedsontmoeting in Williamstown, Massachusetts, as die begin van Amerika se ondersteuning vir wêreldsending. In 1808 het hierdie gebedsgroep en ander studente van Williams College ‘The Brethren’ gestig, wat deur sy lede sendingwerk onder ongelowiges gedoen het. Binne ‘n paar jaar is die Amerikaanse Raad van Kommissarisse vir Buitelandse Sending (ABCFM) danksy hulle werk gestig. Verskeie studente van Williams College, waaronder Adoniram Judson, het as sendelinge na Asië toe gegaan. Hulle was die eerste buitelandse sendelinge wat uit Amerika gestuur is in 1812.

Samuel John Mills het in Amerika gebly om sendelinge te werf, en het gehelp om die Amerikaanse Bybelvereniging en die Verenigde Buitelandse Sendingsvereniging te vestig. In die 50 jaar van sy bestaan het die ABCFM meer as 1 250 sendelinge uitgestuur. In 1961 het die ABCFM deel geword van die Verenigde Kerkraad vir Wêreldsending (UCBWM). Die Amerikaanse Raad het in 150 jaar amper 5 000 sendelinge na 34 sendingvelde gestuur. Dit alles het begin by vyf jong mans wat in ‘n hooimied gebid het! Niks kan gebed se plek inneem nie – geen geld en geen programme nie.

Die punt is: Ons kan wonderlike dinge doen wanneer ons bid .

Bron : Radiokansel (Inhoud aangepas)

Scroll to Top