Die Bybel gee ons twee interessante beelde van ons verhouding met Jesus: 1) ‘n Loot. ‘Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte.’ Jesus wil so na aan jou wees soos ‘n loot aan ‘n wynstok. Die een is ‘n verlengstuk van die ander. Dis onmoontlik om te sien waar die een begin en die ander eindig.
Die loot is nie slegs verbind op die tydstip dat dit begin vrug dra nie. Die tuinier kan nie die lote in ‘n kassie hou en dan op die dag dat hy druiwe wil pluk hulle aan die wingerdstok vasplak nie. Nee, die loot trek voortdurend voeding uit die wingerd. As jy die twee skei gaan die loot dood.
2) ‘n Bruid (2 Korinthiërs 11:2). Is ons dan nie die bruid van Christus nie? Het ons dan nie ‘n gelofte aan Hom gemaak, en het Hy nie ‘n belofte aan ons gemaak nie? Wat impliseer ons huwelik met Christus? Onder andere, kommunikasie wat nooit ophou nie. In ‘n gelukkige huis praat die man nie slegs met die vrou as hy iets wil hê nie. Hy val nie bloot daar in as hy ‘n lekker maaltyd of ‘n skoon hemp of bietjie toenadering wil hê nie.
Gesonde huwelike bevat ‘n gevoel van ‘bly.’ Daar is teerheid, eerlikheid, voortdurende kommunikasie. Soms gaan ons na God met ons vreugde, soms gaan ons met ons seer, maar ons gaan immers altyd. En hoe meer ons gaan, hoe meer word ons soos Hy. Mense wat lank saamleef, begin later dieselfde klink, dieselfde praat en selfs dieselfde dink. Soos ons met Jesus saam verkeer, neem ons Sy gedagtes aan, Sy beginsels, Sy houdings. Inderdaad, ons neem Sy hart aan.
Bron : Radiokansel