
Marta was ‘n ‘kommervraat’ en dit was duidelik toe Jesus by hulle kom eet het. Sy het hard in die kombuis gespook terwyl haar suster, Maria, by Jesus gesit en luister het. In frustrasie het Marta gevra: ‘…Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie?…’ (v. 40 NV).
Kommer maak dat ons vergeet wie dienaar en wie die Here is. Kyk na drie dinge in hierdie verhaal: 1) Marta was besig om te bedien, maar sy het dit nie geniet nie. Daar’s geen twyfel dat sy Jesus tevrede wou stel nie; dis net dat sy toegelaat het dat haar werk vir die Here vir haar meer belangrik geword het as haar verhouding met die Here. Het dit al met jou gebeur?
2) Satan het Marta nie uit die kombuis geneem nie; hy het haar net beroof van haar doel om daar te wees. Satan keer jou nie weg van die kerk af nie; hy laat jou net op jouself fokus. Hy neem nie jou bediening weg nie, hy laat jou net mismoedig raak deur te sê jy is oorwerk en word nie waardeer nie.
3) God heg meer waarde aan jou houding as jou optredes. ‘Doen alles sonder kla of teëpraat…’ (Filippense 2:14 NV). ‘n Slegte houding bederf die geskenk wat jy vir God aanbied. Jesus het gesê: ‘Marta…net een ding is nodig. Maria het…[dit] gekies…’ (Lukas 10:42 NLV).
Wat het Maria gekies? Om by Jesus se voete te sit. Hy verkies altyd die stille toewyding van ‘n opregte hart as die raserige houding van ‘n klaer. Dink daaroor.
Bron : Radiokansel



