Dr Joseph Fletcher, deken van die Sint Paulus Katedraal in Cincinnati, Ohio, het in die vroeë 1960s ‘n boek, getiteld Situation Ethics, geskryf. Hy sê dat liefde die enigste maatstaf is om reg en verkeerd te oordeel. Die gevolg is natuurlik etiese chaos. Elkeen het dan sy eie standaarde, wat van situasie na situasie verander. Om dinge net te vererger, is daar die natuurlike neiging om die self te verskoon, die self slegs op grond van goeie bedoelings te beoordeel – terwyl ander met ‘n strenger maatstaf en op grond van hulle slegste gedrag beoordeel word. Dieselfde persoon wat skryfbehoeftes by sy kantoor sal steel, of oneerlik met sy belasting is, verlang steeds eerlikheid van die maatskappy wie se aandele hy koop, of die kliënt met wie hy sake doen.
Dis maklik om mense te verag wat nie eties optree nie – veral as hulle óns te na gekom het. Dis baie moeiliker om etiese keuses in ons éie lewe te maak. Jy moet besef dat wanneer jy op die rand van eerlikheid beweeg, jy beslis gaan afval! Dis miskien moontlik om sommige mense vir ‘n tyd lank te bedrieg, maar jou optrede sál jou uiteindelik inhaal. Eerlikheid mag miskien tydelik soos ‘n verlies lyk (nes dit tydelik kan lyk asof iemand wen deur oneerlik op te tree). Helaas, jou dubbele standaarde sál jou uiteindelik tot ‘n val bring. ‘n Mens gaan sukkel om selfs één persoon op te noem wat nie uiteindelik deur sy eie kortpaaie en bedrog ingehaal is nie. Salomo skryf: ‘Die pad van die goddeloses is soos stikdonker. Hulle weet nie eers waaroor hulle geval het nie.’ (Spreuke 4:19 NLV).
Bron : Radiokansel