Moenie telling hou nie

Jimmy het te veel gedrink en by ‘n partytjie sy vrou, Lisa, in die verleentheid gebring. Die volgende oggend was hy spyt daaroor en het om vergifnis gevra. Sy het gesê sy sal, maar tog aangehou om heeltyd daarna te verwys. Op ‘n dag het hy moedeloos vir haar gevra: “Ek het gedink jy gaan vergewe en vergeet.” Sy het hom geantwoord: “Ek het, ek wil net nie hê dat jy moet vergeet dat ek vergewe en vergeet het nie.” Is dit hoe jy vergewe?
Om telling te hou, is dalk ‘n goeie idee in sport, maar dit kan chaos veroorsaak in verhoudings. Daar steek soveel goeie eienskappe in die slegste onder ons, en soveel sleg in die beste onder ons, dat ons ‘n groot deel van ons lewe daaraan wy om te vergewe en te vergeet. En dit is soveel moeiliker om te vergeet wanneer die oortreding teen jou groot was. Klein oortredinge word maklik vergeet, groot oortredings verg ‘n genesingsproses. Maar die proses kan nie begin voordat jy besluit om te vergewe nie. Hoe kan jy “so vinnig en volkome vergewe soos die Meester jou vergewe het?” Paulus antwoord: “Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe,” (Kol. 3:12-13, OAV). Om te oefen om op hierdie manier te kan vergewe, moet jy fokus op die ander persoon se sterkpunte, nie op hulle tekortkominge nie. Jy moet wegdraai van dit wat hulle was na dit wat hulle kan wees.
Jy vra dalk: “Waarom moet ek vergewe en vergeet?”
(1) Want God se Woord beveel jou om dit te doen.
(2) Want jy gaan self voortdurend vergifnis nodig hê.
(3) Want jy kan nie die spanning hanteer wat gepaardgaan met afsku nie.
© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top