
Jy is ‘n dwaas wanneer jy God in klein dingetjies misken. Saul het nie oornag tot ‘n val gekom nie. Klein sondes het in grotes verander. Saul het gedink, ‘Dis niks,’ en sommer self voortgegaan. Hy het verduidelik, ‘Ek het toe verplig gevoel om die brandoffer self te bring.’ (1 Samuel 13:12 NLV). Let op sy woorde, ‘Ek het gevoel.’ Dit kan so reg voel, maar so verkeerd wees. Jy kan jou gevoelens net vertrou wanneer dit met God se Woord strook.
Jy is ‘n dwaas wanneer jy jou optrede probeer regverdig. Saul het gesê, “Ek het gesien hoe my manskappe wegloop maar u daag nie op soos afgespreek nie. Die Filistyne gaan teen my optrek”‘ (1 Samuel :13:11 NLV). Staak eerder jou verontskuldiging, kom tot inkeer, en gehoorsaam God!
Jy is ‘n dwaas wanneer jy wrewel toelaat om jou te beheer. Saul se jaloesie teenoor Dawid het hom uiteindelik verwoes. Meeste mense leer uit hulle foute, maar slim mense leer uit ander se foute!
Leer by Saul, moenie dwaas wees nie.
Bron : Radiokansel (inhoud aangepas)


