Dit maak nie saak hoe lank ons al sáám met God wandel nie, ons vlees blý vlees; word nié met verloop van tyd meer soos die Gees nie! Daarom móét ons elke dag ons vlees kruisig en met die krag van die Gees, wat in ons woon, voortgaan.
“Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ‘n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande … Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing …’ (Galasiërs 5:16-17, 22-23 NLV).
Is sodanige lewenstyl moontlik? Beslis, maar let op na die volgende;
1) Besef dat jy ‘n teiken vir die vyand is en beskerm jou met gebede en God se Woord.
2) Raak ontslae van daardie een sonde wat jou altyd laat struikel: ‘…kom ons stroop alles af …die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry.’ (Hebreërs 12:1 NLV).
3) Sorg dat jy altyd met die krag van die Heilige Gees vervul is, want daarsonder gáán jy elke keer struikel.
4) Staan vas in God se krag, nie jou eie nie. Hoe? Deur te veg totdat jy oorwinning smaak. Sy mag en krag, en jou keuse om Hom te gehoorsaam en die stryd voort te sit, verseker altyd ‘n besliste en langdurende oorwinning.
Bron : Radiokansel (Inhoud aangepas)