Doen die regte dinge

corn e881d

corn e881dGeorge Bernard Shaw het gesê: “Mense blameer gedurig hulle omstandighede vir wat hulle is. Suksesvolle mense soek na die omstandighede wat hulle wil hê, en as hulle dit nie kan kry nie, maak hulle die regte omstandighede.” ‘n Boer kan enigiets plant wat hy wil; die grond gee nie om nie. Sê nou maar hy plant koring en giftige kerwel. Die land sal die kerwel net so oorvloedig laat groei soos die koring. Dieselfde beginsel is van toepassing op jou denke. Dit maak nie saak wat jy saai nie; sukses of mislukking, goedheid of boosheid, angs of vrede – dit wat jy saai, kom terug na jou toe. Die Bybel sê: “Hulle wat op die land van hulle sondige geaardheid saai, sal op grond daarvan die dood oes, terwyl hulle wat op die land van die Gees saai, op grond daarvan die ewige lewe sal oes.” (Gal 6:8 NLV).

Leer daarom die Here beter ken deur Sy Woord en gebed. Maak die besluit dat jy elke dag vir iemand tot diens gaan wees. Wees ‘n bemoediging vir almal met wie jy in kontak kom. Neem die eerste stap om ‘n slegte gewoonte te oorkom. Doen iets vir iemand wat jou nie kan terugbetaal nie. Doen drie dinge wat jou buite jou gemaksone sal neem. Wees dankbaar vir wat jy het. Gee vir die Here die beste deel van jou dag. Die Psalmskrywer sê: “Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.” (Ps 118:24 NLV). Hier en nou is die tyd en die plek om gelukkig te wees.

Bron : Radiokansel

 

Scroll to Top