Jou jaar van genade en guns

Om middernag op die 31ste Desember slaan die klok twaalf slae en verwelkom daarmee nog ‘n nuwe jaar. Driehonderd-vyf-en-sestig dae om die vlamme van jou onvervulde drome aan te blaas. ‘n Nuwe begin. ‘n Belowende geskenk. Jy moet dit egter aanvaar, dit oopskeur en dit gebruik. Nie almal doen dit nie. Miskien sien jy op teen wat die nuwe jaar inhou: aftrede, ‘n leë nes, ‘n kroniese siekte, werkloosheid, die lewe sonder ‘n geliefde.

Onthou dat God spesialiseer daarin om mense wat geen uitweg meer kan sien nie, te vertroos en na die pad van vrede, geluk en oorwinning te lei. Hy is immers die beste Trane-afdroër, Bedaarder van vrese, Inspuiter van moed in beangste harte, en die Uittrekker van angels uit slegte herinneringe. Hy “maak alles nuut,” (Op. 21:5). Hy lei jou ook nooit agteruit nie, maar altyd net vorentoe.

Luister hierna: “Die HERE (wag) met ongeduld daarop … om (jou) genadig te wees!” Wat wil jy sien gebeur hierdie jaar? Wil jy dalk jou eie besigheid besit? Wil jy dalk gewig verloor? Jou familie weer herenig? Slegs jy kan hierdie vraag beantwoord: “Wat as ek kon…?” want slegs jy weet wat jou hart laat vinniger klop. Stephen Covey sê: “Begin … deur die einde van jou lewe as jou verwysingsraamwerk te visualiseer … Elke dag sal dan bydra tot die visie van jou hele lewe.” Soek God. Bepaal jou doelwitte. Skryf hulle neer en vertel dan wat dit is aan Hom wat “met ongeduld wag om jou genadig te wees.” Wanneer iemand genade aan jou bewys, beteken dit dat hy aan jou “guns bewys.”

Dit is God se hartsbegeerte dat jy elke dag van hierdie komende jaar in sy genade en guns sal wandel.

© 2007 Radiokansel. / www.radiokansel.co.za

Scroll to Top