Hou aan loop en vertrou!

ImageDaar is ‘n boodskap wat dwarsdeur die Bybel duidelik is: Wanneer ons God nodig het, gryp Hy in en doen dinge wat buite ons vermoë is. Tussendeur versterk Hy ons en sê: “hou aan en vertrou op My”. Daar is nie ‘n towerstaffie nie. As jy iets noemenswaardig wil bereik, moet jy met geloofsvoete loop, elke uitdagende tree. Die boek van Job bestaan uit 42 hoofstukke. In die eerste 41 het Job sy gesondheid, sy rykdom en sy gesin verloor. Niemand het enige vyande nodig as jy vriende soos Job s’n het nie. Sy twyfel was onverbiddelik. Hy het weer en weer vir God vrae gevra, maar net stilte as ‘n antwoord gekry. Hy het deurgedruk, deur moeilike dae, slapelose nagte, en aanhou glo: “Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud,” (Job 23:10, NAV).

Let op: (a) Jy het vuur nodig om goud te suiwer. (b) Slegs die raffineerder weet hoe warm die vuur moet wees en hoe lank dit nodig het. (c) As die proses te haastig afgehandel word, sal die produk minder waarde hê.

God het vir Israel gesê: “Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle.” C.V. White het gesê: “Die man wat iets bereik, wag nooit vir die skare nie. Hy gaan self oor tot aksie. Dit verg durf en wilskrag, maar die man wat slaag, beskik oor beide. Niks belangrik kan ooit gedoen word as sy raadgewers negatief is nie. Sukses word bereik wanneer jy iets regkry wat mense gedink het onmoontlik is.” Selfvoldaanheid, uitputting, kritiek en ontmoediging is hekkies waaroor jy keer op keer sal moet spring. Hou dus aan met lees en vertrou!

© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)

Scroll to Top