Het jy al ooit gewonder hoe diere-afrigters verhoed dat olifant van vyf ton weghardloop? Hulle doen dit deur die dier se denke te beheer. Wanneer baba- olifante opgelei word, word daar ‘n tou gespan tussen die olifant se been en ‘n paal in die grond. Die olifant, wat op daardie stadium nog nie baie sterk is nie, trek aan die tou maar kan dit nie breek of die paal uittrek nie, en gee uiteindelik op.
Van daardie oomblik af glo die olifant hy kan nie wegkom as sy been vasgemaak is nie – al was dit al vir ‘n geruime tyd vir hom moontlik om te ontsnap. Die olifant onthou sy gesukkel.
Ons is ook so. Ons denke beperk ons, gewoonlik as gevolg van vrees. Vrees kan jou drome steel. Jy is dalk bang vir mislukking of verwerping. Jy wil dalk nie ‘n gek van jouself maak nie. Dalk wil jy nie probeer nie, want jy is bang jy slaag nie.
As jy toegee aan hierdie gedagtes en jy glo nie dat jy jou drome kan bereik nie, is dit waarskynlik wat gaan gebeur. Dit is dikwels die geval dat jou vrese nie verband hou met die realiteit nie. Die goeie nuus is dat vrees oorkom kan word. Jy moet God glo wanneer Hy vir jou sê: “Jy is My dienaar, Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp nie. Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand red Ek jou.” (Jesaja 41:9-10 NV).
Bron : Radiokansel