“Wie moet die inspuiting kry?” vra die Apteker. Ek glimlag en wys eers na my en toe na die res van my gesin wat op parade reg agter my staan. Hy lag en roep twee van sy assistente om te kom help. Ek kom agter die loot vir die beste inspuiter het hierdie keer op my geval. Ek voel niks.
Dit was egter nie die geval in 1988 nie. Ons was oppad Angola toe en ons moes almal medies doen wat ‘n reeks inspuitings ingesluit het. Ek was ‘n Stafsersant en die Eskadron Samajoor vir die tydperk. Van die voordele is dat jy nie in rye staan nie en boonop orders kan uitdeel. Ek gebied die ouens links en regs om deur al die prosedures te kom. Loop op en af met my hande in die sye, ‘n frons op my voorkop. Ek loer ook in al die verskillende spreekkamers in waar die manne soos skape na die slagpale gebiedend in die ry wag. ‘n Kwaai Suster verskreeu die troepe in die een spreekkamer. Sy laat my mak lyk in vergelyking met haar attitude. Die troepe wat opeindig in haar ry kyk met groot oë oor mekaar se skouers na haar, biddende dat die wegraping asseblief net moet kom voordat hulle aan die beurt kom vir hulle inspuiting.
In die ander spreekkamer heers daar ‘n geselliger atmosfeer. Ek moet ‘n paar keer kwaaier frons om die troepe se onderlangse geselsery stop te sit. In vergelyking met die suster het ons hier te doen met ‘n engel. ‘n Vroue-sersantjie met ‘n sagte stemmetjie en baie empatie in haar benadering. Ek hoor weer die suster wat bulder in die agtergrond en net daar besluit ek; “Daai kwaai ene, kom nie binne ‘n myl van my af met ‘n inspuiting nie. Punt”
Die rye raak minder en ek besluit (nadat ek moed geskep het vir daardie dik naald) om volgende te wees. Die sersantjie gee haar orders en ek volg maar gedwee. (Daai tyd het hulle mos nie inspuitings deur broeke gegee nie….) Ek ontspan en voel hoe sy my boud peck met daardie naald. Ek hoor hoe sy verskoning aanbied met iets van my vel is dik… Ek voel hoe die naald vir ‘n tweede en ‘n derde keer my boud peck. My oë trek skeel, my mond vlieg oop, my stem is weg. Teen hierdie tyd is dit nie meer snaaks nie. Inteendeel, van die heel eerste probeerslag was dit nog nooit snaaks gewees nie. Ek sit met ‘n probleem.
Troepe staan nou al reeds halfmaan rondom my om die affêre te aanskou. Hulle hou my fyn dop, soekend na die geringste teken van swakheid en pyn. As ek hier faal sal die volgende drie maande se dissipline ‘n ronde nul wees op ‘n kontrak.Iemand anders kom tussen die troepe deurgestap soos ‘n warm mes deur botter. Jip, die kwaai een… Ek hoor sy sê; “Gee hier, laat ek jou wys” My lewe flits voor my verby. Ek voel soos iemand wat weke sonder water in die woestyn rondgedwaal het, en so pas sy laaste tree gee en inmekaar sak. ‘n Stemmetjie fluisters saggies; “This is not happening to me!”.
Sy bulder “Klim in reguit rye troepe, wie’s volgende? Staf, maak vas jou broek!” Ek staan steeds bleek en kopskuddend onderstebo. Vinnig kyk ek eers linksom en toe regsom. Sy’s reeds besig met die volgende troep se inspuiting, ek’s klaar…My hande is terug in die sye, ekstra kwaai frons op my voorkop aangeplak en die troepe waag nie om oogkontak te maak nie.
As ons moet bereken hoeveel keer ons verniet bang was, hoeveel keer ons onsself van lewensvreugde ontneem het oor iets wat ons gevrees het en wat nie gerealiseer het nie sal dit seker ‘n klompie kere wees of hoe?
Dis seker menslik om die onbekende te vrees. Hoe weet ons wat hou die dag van môre ook in? Ons het tog geen beheer daaroor nie. Ek dink verder die Satan kan hierdie taktiek ook tot in die fynste detail uitwerk en met groot sukses toegepas. Vrees verlam en daarmee saam verloor jy ook maklik perspektief. Wanneer ek soms in hierdie hoek vasgedruk word, dan bid ek altyd die volgende gedeelte in Fil 4:7 “…en vrede wat alle verstand te bowe gaan, sal oor my hart die wag hou.” Roep die Here hiermee aan en moet nie ophou totdat Sy vrede wel oor jou hart en oor jou gedagtes heers nie.
Dit is mos ‘n waarborg deur God?
Johann