Soms is ons in die teenwoordigheid van BBP’s (baie belangrike mense) sonder dat ons dit eens besef.
Vat maar vir Jakob. Toe hy vir Esau gevlug het, het hy een nag op ’n klip geslaap. Toe verskyn die Here onverwags in ’n droom aan hom. Ná die tyd het hy tot sy skok bely: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”
Die grootste fout wat jy kan maak, is om nie die Here te herken as Hy by jou is nie. Dis om die kans van ’n ewigheid deur jou vingers te laat val! Wie weet, dalk gaan jy vanjaar nog met ’n paar bekendes paaie kruis. Maar die belangrikste Persoon van almal is God self. Op baie plekke sal jy sy hemelse vingerafdrukke rondom jou sien.
Moenie Hom ignoreer nie. Maak God elke dag die eregas in jou lewe.