Die lewe kan soms beskryf word as ‘n ontdekkingsreis. Dit gaan dus oor die ontdekking van jouself en jou doelwitte, sowel sa die ontdekking van ander mense wat jou pad kruis. Jy begin dus die reis reeds van jongs af. Jy ontdek jou liggaam, jou stem, jou oe en hande. Skielik sien jy jou voete en jy besef dat jy, alhoewel jy nog klein is, mense kan laat stilstaan as jy lekker hard skreeu of in die kerkgangetjie jou stem laat hoor. Mense neem kennis van die klein mensie in die stootwaentjie. Jy het ‘n stem en ‘n wil wat jy sommer orals laat geld en dit maak nie saak wat die tyd en die omstandighede is nie.
Jy het jou ligaam begin ontdek, maar mettertyd wonder jy saam met al jou maats en jou familie wie jy nou eintlik is, veral as jy voor keuses gestel word in die skool. Jy soek na antwoorde en moet vakke kies. Later sien jy die keuses in die lewe word alhoe meer en jy moet ‘n beroep kies, jou lewensmaat en hoe jy gaan leef. Hierdie wonder oor jouself beinvloed jou hele lewe. Jy vra weer die vraag: “Wie is ek?” en dan word dit stukkie vir stukkie duidelik:
- Jy is spesiaal en het ‘n doel.
- Jy kan die goeie oor jouself neerskryf en die mylpale wat jy bereik het in die lewe.. Jy kan trots wees op jouself.
- Jy mag maar droom.
- Jy mag foute maak en oor begin.
- Jy mag jou keuses maak en jou waardes uitleef.
- Jy mag die lewe leef en altyd besef dat jy saam met ander deel is van die stories van hoop in die lewe. Jy is meer as ‘n nommer en woorde op papier- jy is JY!
Stephan van Heerden (Klipkerk.co.za)