Ontdek jouself

Image‘n Fabel vertel van ‘n seun wat gaan bergklim het en ‘n eier uit ‘n arend se nes gevat het. Hy het dit tuis onder ‘n hen gaan sit. Toe die arend uitbroei, het hy gedink hy is ‘n hoender, met al die gewoontes van die hoenders. Hy het nie van beter geweet nie. Hy het soms diep in sy binneste vreemd gevoel, maar omdat hy nie geweet het wat dit beteken nie, het hy dit geïgnoreer of onderdruk. Hy was tog ‘n hoender en moes ook soos een optree!

Eendag sien hy ‘n arend oor die werf vlieg en wens hy dat hy ook so kon sweef bo die aarde. Hy het sy vlerke gesprei en skielik besef dat hy dit kon doen! Alhoewel hy nog nooit gevlieg het nie, het hy die instink en vermoë in hom gehad. Hy het eers bietjie wankelrig rondgefladder, toe met meer krag en uiteindelik was hy in beheer van sy situasie. Hy het hoog bo die aarde gesweef en ontdek wie hy werklik was – ‘n arend wat deur God geskape is.

Philip Brooks het opgemerk: “As jy ontdek dat jy nog altyd net ‘n halwe lewe gelei het, gaan die ander helfte by jou spook totdat jy dit begin ontwikkel.” Paulus het selfontdekking in gedagte gehad toe hy geskryf het: “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het . Daarom moet ons die grootheid van God prys,” (Ef. 1:10-11, NAV). Jy is deur God en vir God. Sodra jy dit verstaan, sal jou lewe begin sin maak. In Christus ontdek ons ons doel, ons waarde en ons bestemming. Met ander woorde: In Christus ontdek ons ons ware self!

© Radio Kansel 2008

Scroll to Top