Draf-loop

Vir my 40 ste verjaarsdag het ek onderneem om die Two Oceans se half marathon te hardloop. Vandag het ek die sertifikaat wat wel wys dat ek daar was, maar dit toon (ongelukkig) nie aan dat ek in die gegewe tyd klaar kon maak nie. Ek het wel ’n foto…
Met ‘n halfuur te spaar het ek nog net sowat 5 km oorgehad voor die eindstreep. Wat my ongelukkig ingehaal het was krampe. Dis verpeslike goed sê ek jou, krampe speel nie met jou nie. Nie die genuine tipe nie. As daar vlakke van krampe was en die minste seer was dalk ‘n Kramp Minimolitis en die ergste graad was ‘n Kramp Verskrikolites, danword my krampe in die laaste gedeelte goed beskryf. Die simpel ding van die goed is dat mens mos nie beheer het oor wat jou liggaam volgende gaan doen nie. Lekker draf jy nog die een oomblik net om die volgende oomblik jouself te pletter te val weens ‘n kramp wat jou van nêrens af bevlieg en dan om jou been onsubtiel agter jou rug op te buig sodat jou hakskeen net–net jou regter oor mis.
“Bravo!” skreeu die mense, hulle dink jy doen ‘n split in die middel van die teerpad… ‘n Ander omie staan op om vir jou histeries hande te klap – hy dink iemand wat homself neervel soos ‘n fladderende gesplete swaan vanaf ‘n hoogte van 1.5 m moet guts hê.
Daar is selfs; “…jy’s ‘n aansporing vir ons ou manne…” opmerking wat jy iewers tussen die skare by jou ore aangerol kom. Dan die ergste; Hoekom laat krampe jou soms lag. “Ha ha ha haaaaaaa (gou asem skep voor jy afsluit met ‘n) hieeehaaaa….” Dit klink eerder soos ‘n Crocuta crocuta (gevlekte Hiëna) of ‘n lui donkie laat middag op ‘n stofpad.
En dan, asof jy nie alreeds die bespotting is van die BBC, CNN, ANC en wie weet wat jou aangaap nie, word jy vanuit ‘n pasient-leeg tentjie sowat 30m vêrder aangemoedig om jou liggaam tot daar te loop-sleep. Op hierdie stadium het Kramp Verskrikolitis jou voet al verby jou oor forseer en kyk jy reeds agter teen jou hakskeen vas. Jy loop jy eerder soos ‘n rollende wawiel wat ‘n paar speke kort…
Wat ek eintlik wou sê is die rede hoekom ek begin draf het. Zelda het in daardie tyd elke middag ‘n paar kilometers gaan stap. Toe maak ek mos een middag die fout en bied aan te bied om saam te stap. Dit was ‘n groot fout. Zelda se stappie was toe nie ‘n stappie nie, dit was duskant ‘n sprint-stap. Met elke tree wat ek gee, gee sy maklik drie. So moes ek toe maar stap en wanneer sy omtrent 50m voor my was, het ek begin draf om op te vang. Dan rammel ek ‘n paar woorde af voor sy as’t ware weer op die horison verdwyn.
Die gerammelde woorde was meestal iets van;
“Dis nie meer snaaks nie, die mense lag vir my!…”,
“Dis absurde malligheid hierdie Zelda, stop nou”,
“Is jy dalk kwaad vir my?…”
“Asseblief my hartlam, my engeltjie, ek kan nie meer nie!”
Hoe meer ek wou sê, hoe vinniger moes ek praat. Dan draf ek maar weer om haar in te haal.
Later het ek begin slim raak, ek het ‘n eintjie verby haar gehardloop en meer woorde ingekry. Die entjie het later ‘n 50m geword, toe 100m, toe 200m, en toe begin ek draf…
Om God se stem te hoor, om Jesus se wil vir jou lewe uit te vind, om jou lewe toe te wy aan Hom sal dit nie help as jy soos ek gedraf-loop het nie. Dit gaan nie oor hoeveel keer jy jou Bybel lees of bid nie, of kerk toe gaan nie. Dit gaan of jy bereid is om die pad saam met Jesus te loop, nie 50m agter Hom nie, nie daardie paar woorde terwyl jy verby Hom hardloop met jou eie agendas en idees nie. Nie 100m voor Hom waar jy Hom nie kan hoor nie. Maar langs Hom sodat jy Sy elke tree kan navolg, elke woord uit Sy mond kan hoor, Sy handeling kan ervaar in situasies en by Hom kan leer. En dan wanneer jy moeg en afgemat word van die lewe en omstandighede, Hy jou kan opraap in Sy beskermende liefde en jou deur elke situasie kan dra sodat jy dag vir dag geestelik meer volwasse en bruikbaar kan word in ‘n wêreld wat nodig het om van Jesus en Sy liefde te hoor.
Praat die Here dalk met jou?
Blessings, Johann
Scroll to Top