Onlangs is ek in ‘n boekwinkel. Tussen die soekery na my afdeling, is daar ‘n Boetie en sy Sussie, ek skat die seuntjie so op 5 en sy sussie seker so jaar of wat jonger. Hulle sit plat op die mat met ‘n boek tussen hulle.
Ek loop verby, maar die seuntjie roep my nader.
“Oom, kyk hier…”
Ek loop nader, en sien hy blaai deur ‘n boek van Dinosaurusse (dit het my 5 minute gevat om die woord reg te spel spel… in enige taal.)
“Wat se goggos kyk jy?” vra ek knielende langs hulle.
“Dis Dinosaurusse Oom!”
“Weet Oom wat?”
“Wat?”
“As ek eendag 86 jaar oud is, koop ek die boek vir my”
Ek begin lag, maar die Sussie sê vir my; “Dis nie funny nie…” Duidelik is sy ‘n groot ondersteuner van haar Boetie.
Hy blaai om en sonder om ‘n oog te knip, identifiseer hy elke dinosauris by die naam. Die knaap ken toe sy Dino-what-evers, en selfs hulle Oupas ook. Ek voel redelik goggerig onnosel (…is onnosel ooit reg gespel?)
Later toe ek by my afdeling uitkom koop ek ‘n boek met die titel: “SQL for Complete Idiots”. Nie om te lees nie, dis net hoe ek op daardie oomblik gevoel het.
Die Bybel waarsku ons ook om nie neer te sien op iemand wat jonger as jy is nie. Wysheid van God het nie ouderdomsbeperkings nie. Bereidwilligheid om jouself te onderwerp aan die heerskappy van die Heilige Gees, bring geestelike volwassenheid mee ongeag jou ouderdom.
Luister volgende keer as iemand praat, jy sal vinnig aflei van “watter boeke” hou hy.
Johann de Jager