Ek kan my altyd verkyk aan hierdie kleintjies wat ewe gedwee en met groot ogies die hele wêreld hier van onder die ma af beloer. Die ma kan maar gaan waar sy wil, swiep deur die bome of gallop op die grond, boetietjie klou vir Afrika.
Ek het een keer gesien (dit was eintlik histeries snaaks!) hoe so ’n trop deur ’n rivier gegaan het.
Hierdie spesifieke kleintjie het aan sy ma se maagkant gehang. Die volgende oomblik verdwyn hierdie bobbejaantjie onder die water en al wat mens toe sien is die ma se kop wat uitsteek. Met afwagting wag ek dat hierdie kleintjie enige oomblik gaan uit”pop”. Maar niks gebeur nie. Ek raak lateraan benoud vir sy onthalwe.
‘n Kort rukkie later kom die ma anderkant dood luiters uitgeloop. Raai wat? Daardie kleintjie klou steeds vas vir lewe en dood!
As daardie kleintjie sy ma halfpad deur die rivier sou los, het hy heelwaarskynlik verdrink. Sy keuse om sy asem op te hou en te klou het hom gered.
Kan ek jou bemoedig om vandag opnuut aan God vas te klou. Onlangs moes ons self vasgeklou het maar vandag kan ons saam met Dawid getuig dat God getrou is.
Vrees is ‘n vieslike ding. Dit het die neiging om jou vertroue in God te demp net om Hom dan nie te vertrou nie. God kan jou ook daardie vrede gee sodat jy aan Hom kan vasklou.
Jou oorgawe gaan egter ‘n beslissende rol speel of jy in oorwinning gaan lewe of nie. Jy kan nie die geestelike stryd aanpak met ‘n swembroek en ‘n strandsambreel nie.