Ek glimlag en antwoord dat dit soms voel of ek hulle net vir myself opstel. Maar sy sê toe ‘n baie interressante ding, en dit is dat sy soveel male al die inhoud kon gebruik het in gesprekke met haar maats. Dit laat my weer besef hoeveel geleenthede is daar vir evangelisasie of sommer net wysheid in ‘n wêreld wat in elkgeval kop onderstebo bedryf word. Ja, evangelisasie neem baie vorme aan. Eintlik is elkeen van ons elke dag besig met evangelisering. ‘n Glimlag of sagte woord, soms net ‘n simpatieke stilte is alles wat impak maak in iemand se lewe. Soms besef jy dit nie eers altyd nie.
Maar nou ja, ek is nie spyt dit is Vrydag nie. Ek was hierdie week in ‘n situasie betrokke waar my ou natuur kort kort gedreig het om uit te klim, maar ek en Bertus van His Word Ministries het die afgelope tyd nogal oor hierdie tipe van goed gepraat. Hy handhaaf ‘n 3 sekonde reël. Binne daardie 3 sekondes neem hy ‘n besluit en voer die aksie uit om te vergewe en te seën. Ek was nou nie regtig by die 3 sekondes nie, dalk eerder 3 ure…, maar ek kon dit regkry om hierdie situasie totaal en al anders te benader as voorheen en dit kan ek nou los by Vader.
Die kat snork hier langs my en dit breek my konsentrasie. Geniet jou naweek en kom sonder kouse by die werk aan Maandag, uit jou sokkies gebless!!
Johann