Was jy al ooit saam met iemand in ‘n restaurant en die koppie koffie kos net R8, maar hulle sukkel om ‘n fooitjie vir die kelnerin te los? Hulle het mos R2 in kleingeld – maar dink jy hulle gee dit? Nooit gesien! Dit sal heeltemal te veel wees. Hulle sal liewer tien minute mors om kleingeld te soek sodat hulle ‘n R1.50 fooitjie kan los en hulself 50 sent kan spaar. Wat sou gebeur as hulle die 50 sent ekstra ook daar los? Hulle sou die kelner of kelnerin se dag gemaak het! Die 50 sent beteken miskien nie veel nie, maar die boodskap wat daarmee saamgaam spreek boekdele! Dit sê, “Dankie, jy het my goed bedien. Ek waardeer jou.” Miskien raak hierdie boodskap verlore – jou kelner tel net die fooitjie op sonder om eers daarna te kyk – maar jy, die een wat “ruimhartig saai” sal “volop oes” (2 Kor 9:6 NLV).
Â
Wat ‘n wonderlike geleentheid. Ons kan andere gelukkig maak en onsself seën met ons kleingeld. Dit is net ‘n klein voorbeeld van die menigte wyses waarop ons onbeduidende aksies verrassende gevolge kan hê. Klein gebare van vriendelikheid gee die toon aan vir ons hele dag. Om die ekstra myl te loop – of dit nou ‘n groter fooitjie is of ‘n onverwagte kompliment, of net die deur vir iemand oop te hou – kos jou min, maar beteken baie.
Â
Nog ‘n gedagte: ons kan geloof hê wat berge verskuif, al die skrifture van die Bybel uiteensit en hoë punte kry vir ons persoonlike heiligheid, maar tog sê God se Woord “kom die liefde kort, sou ek ‘n ronde nul wees” (1 Kor 13:2 NLV).
Â
© Radiokansel.co.za