Image

ImageHaat wen. Donkerte triomfeer. Altans so lyk dit vir baie mense. Maar dis nie heeltemal waar nie. Liefde is altyd sterker. Hoe weet ek dit? Wel, die Bybel leer my dit. In Romeine 12 skryf Paulus dat wanneer jy diegene wat jou haat met liefde hanteer, dan gooi jy vuurwarm kole op hulle kop. Bedoelende, dan maak jy hulle skaam. Dan verkrummel hulle hardheid uiteindelik voor die aanslag van die Here se liefde.

Niks of niemand is bestand teen liefde nie. Egte liefde kom van God af. Daarom is liefde altyd die kortste pad tussen enige twee mense. Dit verbaas my dus nie dat ‘n onlangse studie van Neal Krause by die Universiteit van Michigan, waar 976 kerkgaande volwassenes oor 3 jaar gemonitor is, bevind dat mense wat graag ander op die hande dra, veel gesonder is; dat hulle boonop ook heelwat langer lewe en dat hulle stresvlakke beduidend laer is.

Om ander lief te hê, is altyd goeie medisyne. Die Here het ons in sy wysheid aanmekaar geweef om diep gevoelens van vrede en geluk te ervaar as ons uitreik na ander. Selfs ons immuniteitsisteem word versterk as ons met harte vol empatie na ander uitreik. Daarom dat liefde sterker is. Probeer dit ‘n slag!

Stephan Joubert (www.ekerk.co.za)

Scroll to Top