Afgekoop, verlos, herstel!

Was jy al ooit in ‘n pandjieswinkel? Daar is een in die meeste dorpe en stede. Die idee is eenvoudig, as jy geld nodig het, vat jy ‘n item soos juwele of ‘n musiekinstrument na die winkel toe waar die pandjiesbaas dit waardeer en geld aan jou gee. As jy egter nie binne ‘n sekere tyd die item weer kom terugkoop nie, gee jy jou eienaarskap op. Alhoewel dit oorspronklik joune was, is jy nie langer daarop geregtig voordat jy die prys betaal het om dit terug te kry nie. As jy te lank wag, kan jy dit vir altyd verloor.
Het jy al ooit aan jouself gedink as iemand wat afgekoop moet word, sodat jy teruggegee kan word aan jou regte eienaar? Die Bybel sê God het ons geskep sodat ons gemeenskap met Hom kan hê. Maar sonde het veroorsaak dat ons in die “vangstrik van die duiwel [geval het], waarmee hy (ons) gevange (hou) . om sy wil te gehoorsaam,” (2 Tim. 2;26, NAV). Om herstel te word tot God, jou regte eienaar, kan slegs deur verlossing gebeur. Dit is presies wat God gedoen het! “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê,” (Joh. 3:16, NAV). Christus se dood op die kruis was die prys van jou verlossing – dit is hoeveel God jou waardeer!

Maar verlossing kan net ‘n werklikheid word wanneer jy besef dat jy ‘n sondaar is, en op Christus vertrou as jou Verlosser. Die oomblik wanneer jy dit doen, sal Hy jou terugbring na jou Hemelse Vader – afgekoop, verlos en herstel aan jou oorspronklike eienaar. Die vraag is dus: het jy God se aanbod op jou te red opgeneem, daardie aanbod wat jou deel maak van sy familie? As jy hierdie woorde kan lees, is dit nog nie te laat nie. Jy kan dit nou doen, waar ook al jy is.

(Kopiereg: Radio Kansel 2008)

Scroll to Top