Wat sal jou nalatenskap wees?

integrity1006

integrity1006Josia se oupa, Manasse, was ‘n gewelddadige koning wat “so baie onskuldige bloed vergiet het dat hy Jerusalem van hoek tot kant daarmee volgemaak het” (2 Kon 21: 1 NLV). Sy vader, Koning Amon, is deur sy eie dienaars doodgemaak. Sy grafskrif verklaar, “Hy het gedoen wat God gesê het is verkeerd”. Josia was slegs agt jaar oud toe hy koning geword het. Hy het dadelik die pad van reg en geregtigheid gekies en het sy hele lewe gedoen wat reg was (Sien 2 Kon 22:2).

Terwyl Josia besig was om die tempel te herbou, het hy die Gebooie ontdek. Toe hy dit lees, het hy gehuil en besef dat sy volk ver van God afgedwaal het. Hy het ‘n profetes gevra “Wat sal van my mense word?” Sy het vir Josia gesê dat sy volk gespaar sou word omdat hy berou gehad het (Sien 2 Kron 34: 14-27). Dit is ongelooflik om te dink dat ‘n hele nasie genade ontvang het as gevolg van een man se integriteit.

Jy kan beslis bo jou omstandighede uitstyg en ‘n verskil maak – want God kan jou ‘n nuwe geboorte en ‘n nuwe begin gee. Net soos Josia is dit nie vir jou moontlik om beheer uit te oefen oor hoe jou voorvaders teenoor God opgetree het nie, maar jy kan wel kies hoe jy teenoor Hom optree. Jou verlede hoef nie jou tronk te wees nie: jy het ‘n sê in jou lewe, jy het ‘n stem in jou noodlot, jy het ‘n keuse oor die pad wat jy loop. Kies reg, en eendag – generasies van nou af – sal ander God bedank vir jou nalatenskap.

© Radiokansel.co.za

Scroll to Top