Aan wie is jy aanspreeklik?

responsible0402

responsible0402Op 26 Februarie 1995 het Barings, die oudste Britse bank, aangekondig dat dit bankrot is nadat die bank amper ‘n biljoen doller verloor het. In 1994 het die hoof aankoper van Barings se kantoor in Singapoer baie op Japan se Nikkei aandelebeurs gewaag. Toe gebeur ‘n ramp: ‘n aardskudding tref Japan en op 23 Januarie 1995 val die Nikkei-mark met meer as 1 000 punte. Barings verloor reusebedrae. Barings Bank se aankoper verdubbel egter sy belegging want hy was seker dat die mark móés herstel. Dit het nie. Barings se Londense kantoor spandeer naastenby ‘n biljoen doller om sy posisie te probeer beredder, maar het uiteindelik nie meer geld oor nie en moet bankrotskap verklaar. Die vraag is: hoe kon ‘n agt-en-twintigjarige aankoper in Singapoer amper ‘n biljoen doller verloor en ‘n 233 jaar oue bank ruïneer?

Volgens die tydskrif TIME was ‘n gebrek aan aanspreeklikheid die probleem: ‘Londen het [die aankoper in Singapoer] toegelaat om in beheer te wees van die handels-, sowel as die vereffeningsafdeling. Dit is ‘n situasie wat toksies kan wees en – in hierdie geval – was. ‘n Koper wat sy eie boekhouding doen, is soos ‘n skoolkind wat sy eie toetse merk. Die versoeking om oneerlik te wees, kan oorweldigend word, veral as daar genoeg op die spel is.’

Jesus het Sy dissipels in pare uitgestuur, en nie alleen nie. Want met die regte persoon aan jou sy het jy ondersteuning, aanmoediging en beskerming – beskerming teen jouself! As jy ernstig is oor jou geestelike lewe is aanspreeklikheid iets wat jy moet aanvaar. Dus, aan wie is jy aanspreeklik?

Bron : Radiokansel

Scroll to Top