
Ons woede spruit dikwels uit trots. Naaman, die melaatse, het hom vererg toe Elisa hom beveel het om sewe maal in die modderige Jordaanrivier te gaan bad. ‘Maar Naaman het baie kwaad weggegaan en gesê: “Ek het gedink hy sal uitkom en my ontmoet! Ek het verwag dat hy sy hand oor die melaatsheid sou waai en die Naam van die Here sy God aanroep en so vir my gesond maak!”‘ (2 Konings 5:11).
‘n Amerikaanse koerant het berig oor ene Steve Tran van Kalifornië wat in ‘n poging om sy kokkerotplaag uit te roei, 25 gifkannetjies in die woonstel opgestel het. Toe die sproei egter die liggie van die stoof tref, het dit ‘n geweldige ontploffing veroorsaak. Al sy vensters is uitgeruk en die meubels het aan die brand geslaan. ‘Ek wou die kokkerotte uitroei en het gedink as ek baie meer gif gebruik, hulle langer sou wegbly,’ het hy verduidelik.
Die instruksies op die etiket dui aan dat slegs twee kannetjies genoeg sou wees om sy probleem op te los. Die ontploffing het meer as $10 000 se skade aangerig. En die kokkerotte?, ‘Teen die Sondag het ek hulle weer sien rondloop’, het Tran vertel. Ja, ‘iemand wat kort van draad is, doen dom dinge’.
Bron : Radiokansel




