Moenie skynheilig wees nie

mask1706

mask1706Jesus is die enigste persoon in die Nuwe Testament wat die woord ‘skynheilige’ gebruik het. Daar is dalk ‘n rede daarvoor. Argeoloë het ‘n dorpie ontdek met die naam van Sepphoris wat gebou is toe Jesus maar ‘n kind was. Dit is gebou op ‘n heuwel naby Jesus se tuisdorp en het ‘n groot amfiteater gehuisves. Die akteurs wat daar toneelstukke opgevoer het, was bekend as hypocrites. Hulle het maskers gedra sodat die gehoor hul karakers kon uitken. Aan die einde van die toneelstuk het hulle hul maskers afgehaal en die gehoor het hande geklap. So, “hypocrisy” oftewel skynheiligheid, beteken om ‘n masker te dra wat ander beïndruk of om die bos lei!

Jesus vertel van drie spesifieke areas waarin ons geneig is om skynheilig te wees: (1) Gee. “Wanneer jy iemand in nood help, moenie ‘n groot okkasie daarvan maak nie. Dis wat die skynheiliges in die sinagoges en op die strate doen om deur die mense opgehemel te word” (Matt 6:2 NLV. (2) Bid. “Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe .En jou Vader wat alles weet, sal jou beloon” (Matt 6:6 NLV). (3) Oordeel. “Hy sal julle beoordeel soos wat julle ander beoordeel. Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir julle self gebruik word. Of hoe sal jy vir jou medemens sê: ‘Kom laat ek daardie splintertjie uit jou oog uithaal,’ terwyl daar ‘n yslike stomp in jou eie oog sit? Jou skynheilige, haal eers die stomp uit jou eie oog uit. Dan sal jy ook duidelik kan sien om die splinter uit jou medemens se oog te haal” (Matt 7:2-5 NLV).

© Radiokansel.co.za

Scroll to Top