
Oom Gertjie is ‘n massiewe groot tuinspinnekop. Ek dink nie jy verstaan hoe groot hy is nie. Ek wou al van hom ‘n foto neem, maar hy pas nie in die foto nie. …die kamera bewe te veel…
Jy wonder seker hoekom spuit ons hom nie met gif nie. Wel, wat sal jy doen as Oom Gertjie jou agtkantig in die oê kyk en sarkasties sê : “Go ahead… make my day!”?
As hy in die gang afstap, dan stop jy met jou rug teen die muur, hande sywaarts horisontaal uitgestrek, en skuifel-skuifel verder tot hy uit sig is.
Waag dit om hom te probeer slaan met ‘n skoen of ding en hy lyk soos Claude van Damme wat sy teenstander met twee vingers nader wink voor hy die uitklophou toedien.
Dit maak ‘n besoek aan sy “gunsteling plek” in die huis relatief uitdagend. Dis amper soos om in ‘n leë skoolhoof se kantoor binne te stap en jy verwag hy kan enige oomblik inbars vanuit enige rigting. Ek moet bieg… dit maak my baie senuweeagtig om ‘n “ringsitting” by te woon. Wat nou as hy dalk binne is en hy besluit (om watter rede ookal… en daar’s baie…) om uit te klim? Ek wil dalk nie te vêr dink nie, maar ek weet een ding; ek hol deur ‘n toe deur met toiletpapier wat wapper soos die Britse Vlag op Her Majesty se skip.
Een dag vervies ek my toe Nico kom vra of ek nou net in die toilet was. (Ek het mos gespuit…wat kan ek meer doen?)
“Hoekom?” vra ek.
Hy wink my nader en wys my waar Oom Gertjie houtgerus gesit het terwyl ek my rillerstories sit en uitdink het.
Reg agter my op die deksel!
Daardie probleem wat jou nou al vir weke lank rondjaag van die eenhoek tot die ander is besig om jou visie en perspektief uit fokus te haal. In teendeel, dit is al reeds vir ‘n geruime tyd uit fokus. Lewensvreugde is iets wat jy nie meer ervaar nie. As jy vanoggend die moed kan bymekaar skraap om die Here hiermee te kan vertrou is jou deurbraak daar.
Johann



