Bulhonde en poedels

ImageOp ‘n dag het ‘n bulhond en ‘n poedel hewig baklei. Die bulhond het die poedel gespot en gesê dat hy ‘n pieperige, klein skoothondjie wat niks kan doen nie. Hy het gesê: “Ek daag jou uit! Kom ons kyk wie kan die agterdeur van ons huis die vinnigste oopmaak en ingaan binnekant toe.”

Die bulhond het gedink dat hy die deurknop met sy sterk kake sal kan oopdraai, terwyl die poedel nie eers die deurknop kon bykom nie. Tot die bulhond se verbasing het die poedel gesê: “Ek kan vinniger as jy in die huis inkom. Ek aanvaar jou uitdaging.” Terwyl die poedel gestaan en kyk het, het die bulhond na die agterdeur gehardloop en opgespring na die deurknop toe. Hy het dit in sy kake en met sy pote vasgegryp, en probeer om dit te draai, maar hy kon nie ‘n goeie houvas op die deurknop kry om dit oop te maak nie en moes uiteindelik uitgeput die aftog blaas.

Nou was dit die poedel se beurt. Hy het bloot gedoen wat hy al vir jare lank doen. Hy het na die deur toe geloop, ‘n paar keer daarteen gekrap en geduldig gesit en wag. Binne enkele sekondes het sy baas die deur oopgemaak, die poedel in sy arms opgetel, sy kop liefdevol gevryf en hom binnetoe gedra.

Die verskil het in die verhouding gelê. Party van ons is bulhond-Christene. Ons grom, steun en probeer om God gelukkig te maak. Raak rustig! Al wat God vir ons vra, is: “Nader tot My en Ek sal tot jou nader.”

© Radio Kansel 2008 (www.radiokansel.co.za)

Scroll to Top