Bly toegespits

Goals2007

Goals2007Die armste mens op die aarde is nie die een sonder geld nie, maar die een sonder visie vir sy lewe. Visie vereis egter fokus. Wanneer daar te veel dinge is wat jou aandag opeis, kan jy niks behoorlik doen nie, want alles word maar so-so afgerammel. As jy vir te veel dinge ‘ja’ sê, is mislukking altyd die gevolg. Iets wat goed is, is nie noodwendig vir jou reg nie. As jy reeds al jou beskikbare tyd en energie afstaan aan die sake wat God van jou verlang, moet jy vir alle ander dinge nee sê. ‘Nee’ maak jou vry van ander se verwagtinge en jou behoefte aan goedkeuring.

‘Nee’ beteken nie ‘nooit’ nie, dit beteken net ‘nie nou’ nie. As jy aan elke front probeer veg, sal jy uitgeput raak en verloor waar dit saakmaak.Om te veg sonder buit, is soos om ‘n brandende pondokkie met ‘n kannetjie water te probeer red. Tensy iemand se lewe in gevaar is, is dit die moeite nie werd nie. Spaar jou energie vir die gevegte wat regtig die moeite werd is.

Jy sal altyd verloor wanneer jy: a) die verkeerde geveg aanpak b) op die verkeerde tyd veg c) wanneer jy nie betrokke behoort te wees nie d) veg ten einde goed oor jouself te voel e) die geveg verloor het, maar voortgaan omdat jy te trots is om terug te staan.

Bly toegespits op jou doelwitte. Hou jou oë op die beloning wat God vir jou gereed het. As die vyand jou nie kan verslaan nie, sal hy jou aandag probeer aftrek met allerhande onbenullighede, of jou sovêr kry om swak besluite te neem. Moenie mislei word nie; bly toegespits op jou doelwitte.

Bron : Radiokansel

Scroll to Top