Ons dink ‘n lys van moets en moenies sal ons God se guns laat verkry. Dis vreesgebaseerde denke en, ‘…God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie…’ (2 Timoteus 1:7 NLV). ‘Ware liefde het nie plek vir vrees nie; omdat vrees nog met straf behep is’ (1 Johannes 4:18 NLV). Wettiesheid is die vrees dat God nie genadig genoeg is om sondes te vergewe nie, dat tensy jy die regte ding op die regte manier op die regte tyd doen jy in diep moeilikheid is.
Jon Walker skryf: ‘Wanneer ons bang is om foute te maak, word ons skugter, en kan ons nie met oorgawe leef nie, analisering beïnvloed ons besluite en ons lei stil, desperate, anti-geloof lewetjies, te bang om met moedige selfvertroue (wat genade aan ons gee) in onsekerheid op te tree, sonder vrees vir verwerping.’
Martin Luther was gekant teen ‘n geloof van goeie werke, ‘Wees ‘n sondaar en laat jou sondes sterk wees, maar laat jou vertroue in God sterker wees, verheug jou in Christus die oorwinnaar oor sonde.’ Luther het sonde nie verskoon nie! Hy het genade egter op die regte plek teruggeplaas, en bevestig dat niks ons van God se liefde kan skei nie (Romeine 8:38-39). Hy het nie die wet misken nie, maar het genade hoër geag. Genade beteken om na God te luister, wanneer dit makliker sou wees om net die reëls na te slaan.
Die waarheid is, ‘Christus het immers tot in die hemel self ingegaan om nou as ons voorspraak voor God te verskyn’ (Hebreërs 9:24 NLV). Hy het ons vrygemaak. Sonde kan ons nie van God skei nie.
Bron : Radiokansel