‘n Voormalige Amerikaanse Minister van Onderwys, William Bennett, het ‘n hedendaagse huweliksplegtigheid bygewoon waartydens die bruidspaar belowe het om bymekaar te bly, ‘Solank as die liefde hou.’ Bennett het gesê dat hy sommer papierborde as geskenk gestuur het, want die huwelik het geen kans nie! As jy ‘n sterk huwelik wil bou, moet jy op die volgende vier aspekte konsentreer:
1) Neem self verantwoordelikheid vir jou geluk. Dis maklik om jou lewensmaat te blameer, dan hoef jy jouself nie in die oë te kyk, of jou optrede te verander nie. Dit werk egter nie! Geluk kan net van binne kom, en wel van ‘n gesonde selfbeeld en ‘n groeiende verhouding met God.
2) Wees ‘n vriend. Het jy al ooit gemerk hoe maklik ons ons vriende met al hulle tekortkominge aanvaar, maar dit tog nie met ons huweliksmaats kan doen nie? Pasop! Verdien jou lewensmaat nie minstens dieselfde respek, lojaliteit, geduld, dankbaarheid en waardering wat jy so maklik aan ander mense gee nie?
3) Streef na dieselfde doelwit. Daar is altyd iets om voor te beplan en waarheen julle kan werk. Saam beplan en saamwerk versterk julle verhouding. Wat is julle doelwit?
4) Wees moedig. Dokter Theodore Rubin sê, ‘Die probleem is nie dat daar struikelblokke is nie, dis om iets anders te verwag; dis om te dink dat om probleme te hê die probleem is!’ Die lewe is nie eens naastenby perfek nie. Jy het moed nodig om alles wat na jou kant kom die hoof te bied. Jy moet besef dat dit wat jy nie kan oplos nie, jy wel kan oor-lewe en oor liefhê. Begin dus vandag aan jou huwelik werk!
Bron : Radiokansel