
Suksesvolle maatskappye het ‘n missiestelling en hou dit altyd voor oë. God het aan Habakuk gesê, ‘Skryf die visioen in groot, duidelike letters sodat iemand wat verbyhardloop dit kan lees’ (Habakuk 2:2 NLV). Jy moet jóú visioen ook neerskryf, lees, onthou en navolg. Jou grootste vyand is afleidings. Al ooit van ‘n ‘wit olifant’ gehoor? Wit olifante is as heilig beskou. Die koning van Siam wou ‘n vyand vernietig en het ‘n wit olifant aan die persoon gegee. Niemand sou dit durf waag om so ‘n geskenk te weier nie. Die probleem was net dat die wit olifant nutteloos was, maar baie gevreet het. Die koning se ‘geskenk’ sou dus uiteindelik sy vyand vernietig. Pasop vir ‘wit olifante’ wat jou energie, tyd en bronne ‘opvreet’.
Leef só om jou visioen te beskerm, ‘…kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag…Kom ons hardloop met volharding… ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun. Hy het ter wille van die blydskap wat daar vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
Dink aan Hom…Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie.’ (Hebreërs12:1-3 NLV).
Bron : Radiokansel (Inhoud aangepas)




