logo




Untitled Document

logoAbraham het nie geweet waar God hom sou bring nie; hy het net geweet dat hy moes trek. Hy het God nie bevraagteken nie: ‘Omdat hy geglo het, het Abraham …weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland.’ (Hebreërs 11:8 NLV). Toe dinge moeilik begin raak het, het hy nie daaraan gedink om terug te keer nie. Hy het geweet God is mét hom. Jefta word onthou om sy oorwinning oor die Ammoniete, en om die eed wat hy voor die veldslag afgelê het. Jefta het geweier om dié eed te breek: ‘…”Ek het aan die Here ‘n gelofte gemaak en ek kan dit nie terugtrek nie.”‘ (Rigters 11:35 NLV).

Israel het in die wildernis vasgeval omdat hulle gedurig na Egipte terugverlang het. Elke keer wat God hulle beveel het om na Kanaän te gaan, het hulle gesê, ‘Maar daar in Egipte …’ Sommige mense kan nie die Christelike lewe geniet nie, omdat hulle altyd beinvloed word deur die pret van die wêreld wat die wêreld hulle bied.

Soos Israel, dink ons aan die knoffel en preie van Egipte, terwyl ons in die wildernis met manna ‘opgeskeep’ sit!  Waar jy vandaan gekom het, mag dalk aanloklik lyk, maar God is nie daar nie; Hy is in jou toekoms.

Daar staan geskrywe: ‘As hulle daardie land bedoel het waarvandaan hulle geëmigreer het, sou hulle kans kry om weer terug te trek. Maar nou …hunker [hulle] na ‘n beter vaderland, naamlik dié een in die hemel. Dit is waarom God daarop trots is om as hulle God bekend te staan. Hy het immers vir hulle ‘n stad voorberei.’ (Hebreërs 11:15-16 NLV).

Wanneer jy saam met God wandel, moet jy alles in die stryd gooi om vooruit te beweeg.

Bron : Radiokansel (Inhoud aangepas)


Scroll to Top