Skyn op die regte plek

Image

My oupa het dikwels na sekere kerkmense verwys as ‘diep’ gelowiges. Toe ek hom eenkeer vra wat ‘n ‘diep’ gelowige is, sê hy dis mense wat reguit hemel toe gaan omdat hulle groot dinge vir die Here doen. Met respek aan my oupa, mens ken nie diep gelowiges so maklik uit nie.

Groot gelowiges werk agter die skerms. Hulle werksterrein is ander mense wat nood en seer het. Tussen armes, verwerptes en verdwaaldes loop hulle stilweg tweede myle. Daar dien en help hulle gereeld.

Groot gelowiges verstaan dat sout net smaak kan gee as dit elders uitgestrooi word. Daarom hang hulle nie heeltyd op kerklike soutmyne rond nie. Wat help ‘n klomp sout op ‘n hoop in elk geval? Hulle weet ook dat lig net werk as dit in die donker skyn. Daarom mors hulle nie te veel tyd tussen ander kerklike lampe wat heeltyd net dreig dat hulle nog eendag ‘n groot lig gaan afgee nie. Nee, hulle skyn sommer nou al op daardie plekke waar dit ‘n voelbare verskil maak! Maar hulle doen dit nooit om die aandag op hulleself te vestig nie. Trouens, jy weet nooit eens behoorlik van hulle nie. Want hulle soek nooit self enige erkenning nie. Stephan Joubert

Scroll to Top