Soms moet ons soos diere optree

Image

 

ImageDie inskrywing wat vanjaar YouTube se kompetisie vir die beste videosnit gewen het, is iets besonders om na te kyk. Meer as vyfmiljoen mense het gestem dat “Battle at Kruger” volgens hulle die beste video op die internet is. Op hierdie stadium is daar meer as 250 miljoen mense wêreldwyd wat al daarna gekyk het.

In die video kan gesien word hoedat ‘n trop leeus ‘n buffelkalfie vang en halflyf in ‘n rivier insleep. Net daarna gryp ‘n krokodil die outjie en dan ontstaan daar ‘n toutrekkery. Die leeus wen die stryd, maar dan gebeur iets onverwags. ‘n Groep buffels begin die leeus een vir een van die kalf af verdryf. Nadat hulle daarin geslaag het om heeltemal tussen die leeus en hulle prooi in te kom, kan gesien word hoedat die beseerde kleintjie veilig beskut saam met die trop buffels wegstap. Wat daarna van die amperse slagoffertjie geword het is onseker. Die buffels se optrede het baie mense wel baie diep geraak.

Soms moet ons soos diere optree. Wanneer iemand seerkry of bedreig word, roep die liefde ons op om na vore tree, ‘n kordon om die persoon te trek en hom of haar te beskerm. Volgens Johannes het Jesus juis dít gedoen: hy was bereid om sy lewe af te lê (1 Joh. 3:16). Sy liefde het nie lippetaal gebly nie, maar hy het dit op baie verskillende maniere met dade bewys (:18). Om in Jesus te glo is nie ‘n blote instemming met abstrakte formulerings nie, maar om liefdevol teenoor ander mense op te tree (:23). Dit is om ander se belange op die hart te dra en húlle te bevoordeel, al is dit dan ook soms ten koste van jouself (Ps. 15:3, 5). Dit is om vir mekaar dáár te wees en mekaar te dra. Dit kán gedoen word as ons beskeie, vriendelik en geduldig is, as ons mekaar in liefde verdra en in vrede met mekaar saamleef (Ef. 4:2-3).

Mag jy – soos wat destyds vir die gelowiges in Efese gebid is – God se liefde ken, “liefde wat ons verstand te bowe gaan” en “heeltemal vervul word met die volheid van God” (Ef. 3:19). En mag jy ervaar dat daar mense is wat bereid is om jou by te staan wanneer jy swaarkry en opstaan wanneer ander jou probeer onderkry.

Gerhard Bothma e-Kerk

Scroll to Top