Dit blyk dat die jong Timoteus maklik deur ouer, meer invloedryke mense geïntimideer is. Hy het nie die moed gehad om hulle aan te spreek nie. Hy was minder gedissiplineerd as wat hy moes wees. Paulus het geskryf, ‘Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ‘n voorbeeld …deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou soberheid… konsentreer daarop om die Skrif aan die gemeente voor te lees, die gelowiges te bemoedig en om hulle te onderrig… Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Let goed op jouself en jou leer. Bly getrou aan wat reg is… ‘ (2 Timoteus 4:12-16 NLV).
Wat is Paulus se boodskap aan ons?
Plaas jou lewe onder ‘n vergrootglas. Maak seker dat elke aspek daarvan volgens die hoogste standaarde funksioneer. Wees ‘n voorbeeld. Leef só dat mense jou sal wíl volg, dit wat jy sê en hóé jy dit sê. Jou daaglikse gewoontes beïnvloed jou toekoms en selfs die gehalte van jou persoonlike verhoudings. Vertrou God en bewaar jou karakter en integriteit.
Sorg dat jou lewe die doek is waarop die Christelike lewe geskilder kan word en wat mense kan bestudeer.
Henri Matisse het gesê, ‘Kunstenaars se tonge moet uitgesny word.’ Hoekom? Omdat die kunstenaar se boodskap deur verf op ‘n doek uitgedra word, nie deur verduideliking in woorde nie. Ja, Paulus het aan ons almal gesê, ‘As dit nodig is, sny uit jou tong’ (parafrase). Jou lewe word uiteindelik gemeet aan wat jy doen nié aan wat jy sê nie.
Bron : Radiokansel (inhoud aangepas)