
Toe Bruner vra wie die ‘grootste’ persoon was wat hy ooit ontmoet het, het die man geantwoord dat hy nie aan mense in terme van grootsheid dink nie. Die man het toe iets gesê wat Bruner nooit sal vergeet nie: ‘Moenie daarna strewe om die grootste te wees nie, strewe eerder daarna om grootse dinge te doen. As jy na grootsheid strewe, sal jou grootsheid saam met jou sterf. Maar grootse dade sal voortleef. Die enigste manier om dit te doen, is om te dien. Lei deur te dien en jy sal grootse dinge doen.’ Bruner het nie besef dat daardie woorde uit die Skrif kom nie – Jesus was immers die vergestalting van dienende leierskap. Toe Bruner die hotel waar hulle koffie gedrink het, verlaat om oor die straat te stap, het ‘n blinde man en sy gidshond langs hom by die verkeerslig gewag. Bruner het na die pragtige hond gekyk, die hond was wakker, sy enigste doel was om na sy eienaar om te sien. Die lig het groen geslaan en die hond het die blinde oor die straat gelei. God het aan Bruner ‘n lewende gelykenis gegee! Bruner het ‘n les geleer: ‘Volg grootse dinge na, nie grootsheid nie; lei deur te dien.’
Bron : Radiokansel

