Wanneer God ‘n besluit neem

providence_church
providence_churchDaar is twee moontlike verduidelikings vir dit wat in 1876 is Swan Quarter, Noord-Karolina, gebeur het. Dit was óf die mees onverklaarbare toevalligheid of letterlik ‘n handeling van God.
Een van die Metodiste Gemeentes het ‘n nuwe gebou nodig gehad en toe iemand ‘n erf in Oyster Creek Straat aan hulle geskenk het, het hulle dit aanvaar. Dit was op ‘n laagliggende gebied, dus het hulle besluit om ‘n stewige wit houtkerkie te bou en dit op baksteenstutte te laat staan.
‘n Paar dae later het daar ‘n storm deur die dorpie gewoed en die mense binne sigafstand van Oyster Creek Straat het iets ongelooflik gesien. Die hele kerkgebou was besig om te dryf! Die vloed het die gebou van die stutte afgelig en dit met die pad af laat dryf. Die mense het probeer om dit met toue te anker, maar die kerk het aanhou beweeg. Terwyl dosyne mense hulpeloos bly kyk het, het die kerk in die dorpsentrum onverklaarbaar regs gedraai en voortgedryf. Uiteindelik het dit op dieselfde besliste manier van die pad afbeweeg. Die kerk het reguit vir ‘n leë erf gemik en reg in die middel daarvan gestop! Die vloedwater het teruggetrek, maar die kerk het bankvas bly staan.
Vandag het daar al 132 jaar verbygegaan sedert die kerk, wat nou die Providence Metodiste Kerk genoem word, na die mees gesogte stukkie grond in die dorp gedryf het. Wat so ongelooflik is, is dat dit staan op presies die plek waar die gemeente oorspronklik hulle kerk wou bou, maar die eienaar van die grond, Sam Sadler, het hulle aanbod van die hand gewys. Die oggend na die vloed het hy die akte vir die pastor gegee.
“Want Ek, die HERE, Ek sal spreek – wat Ek as woord spreek, dit sal gebeur,” (Eseg. 12:25, OAV). Daar is geen twyfel hieroor nie, wanneer God ‘n besluit neem, kan niks in sy pad staan nie!
© Radio Kansel 2009 (www.radiokansel.co.za)
Scroll to Top